| | |

Vuurwapenlisensiehernuwings gedurende die staat van inperking

Deur Marnus Kamfer, regs-en-risikobestuurder vir Gemeenskapsveiligheid

Vuurwapeneienaars het die afgelope paar jaar omtrént die wind van voor gekry. Die vereistes en tydsgrense vir aansoeke en hernuwings van vuurwapenlisensies is vervat in drakoniese wetgewing wat ongenaakbaar toegepas, afgedwing en soms onredelik uitgelê word. Hierdie toedrag van sake het verskeie belangegroepe genoop om die hof te nader om die saak vir dié beleërde vuurwapeneienaars te vergemaklik. Die hoflitigasieroete is egter meestal ’n langdradige proses en die warboel van gebeure skep al hoe meer onsekerheid. Boonop gee Bheki Cele, Minister van Polisie, gereeld te kenne dat hy graag sou wou sien dat geen landsburger – buiten die SAPD en weermag – oor vuurwapens beskik nie. ’n Stuk konsepwetgewing het selfs uitgelek en die rondte gedoen wat bepaal dat die besit van ’n vuurwapen vir selfverdedigingsdoeleindes geskrap sal word.

Ongeag die bovermelde kopsere is ’n ramptoestand in Suid-Afrika afgekondig om die COVID-19-pandemie hok te slaan, waaruit regulasies gespruit het wat regte wat as vanselfsprekend aanvaar is, aan bande lê. Vuurwapeneienaars word direk hierdeur geraak omdat daar twyfel bestaan of ’n aansoek vir die hernuwing van ’n vuurwapenlisensie genoegsame rede is om die huis te verlaat sonder om in die moeilikheid te beland weens die oortreding van een of ander onlangs uitgevaardigde regulasie. Vuurwapeneienaars wat vir lief geneem het met die risiko’s en by polisiekantore aandoen, kom gereeld voor dooiemansdeur te staan aangesien die afdeling wat hernuwingsaansoeke ontvang, eenvoudig gesluit is of weier om aansoeke in die inperkingstydperk te aanvaar.

Dié stand van sake het menige vuurwapeneienaar in ’n koue sweet laat uitslaan. Bykomend tot die feit dat sulke eienaars finansiële en/of persoonlike uitdagings in die gesig staar weens die gevreesde virus, het die vrees ook nou ontstaan dat hulle nie hulle vuurwapenlisensie 90 dae voor dit verval kan hernu nie en sodoende nie aan die bepalings van die wet voldoen nie. Dit het tot gevolg dat hulle deel uitmaak van die honderdduisende burgers van Suid-Afrika wat ook nie hulle lisensies betyds hernu het nie en nou in afwagting die verloop van ’n uitgerekte hofaansoek moet dophou. Alternatiewelik moet daar gebruik gemaak word van die afgekondigde amnestietydperk, wat op 31 Mei 2020 eindig. Albei opsies bevat administratiewe uitdagings en beslommernisse, veral as daar van die amnestietydperk gebruik gemaak wil word, aangesien die applikant nou van voor af moet begin met sy/haar lisensieaansoek en nie net die lisensie kan hernu nie.

Nadat AfriForum verskeie skrywes aan die Minister van Polisie en die Nasionale Polisiekommissaris gerig het om hulle van die uitdagings waarmee vuurwapeneienaars worstel bewus te maak, het die Minister uiteindelik op 22 April 2020 ’n antwoord verskaf wat onder meer bevestig dat vuurwapeneienaars wie se 90 dae om die lisensies te hernu in die inperkingstydperk val, se aansoeke steeds ná die staat van inperking aanvaar sal word. Voorts het die Minister bevestig hy oorweeg dit om die parlement te nader om ook die bogenoemde amnestietydperk te verleng.

Hierdie skriftelike bevestiging van die Minister word beskou as ’n oorwinning vir veral diegene wie se 90 dae in die inperkingstydperk val.

Vir vuurwapeneienaars met ’n vuurwapenlisensie wat reeds verval het, of waar die tydperk van 90 dae vóór die inperkingstydperk verstryk het, sal hierdie skrywe van die Minister ongelukkig nie veel beteken nie, en sulke eienaars sal die litigasie wat tans rondom die lisensies plaasvind, met valkoë moet dophou. Hulle moet alternatiewelik van die amnestietydperk gebruik maak, die vuurwapen ingee en van voor af aansoek doen vir die gemelde vuurwapen. Vir hierdie persone sal die verlenging van die amnestietydperk van groter nut wees, as hulle van die opsie gebruik wil maak, aangesien die SAPD ook nie tans vuurwapens inneem vir amnestiedoeleindes nie.

Die nagevolge van die petalje kan ’n reusebottelnek veroorsaak van aansoeke wat ná die inperkingstydperk ingedien gaan word. Daar moet dus nou al aanvaar word dat aansoeke om hernuwing van vuurwapenlisensies nog langer gaan neem weens ’n moontlike toeloop van aansoeke. Voorts is dit belangrik om die skrywe van die Minister byderhand te hou vir ingeval die beampte wat die aansoeke moet inneem, dalk die “laat” indien van die aansoek bevraagteken.

* Die Minister se skrywe is op aanvraag by AfriForum beskikbaar.

 

Soortgelyke plasings