|

Vyftien wenke om leierskapsvaardighede by ’n kind te kweek – vir ouers

Deur: Leandie Bräsler

In die samelewing is leiers baie keer ouers wat ’n spesifieke leefwyse doelgerig probeer volg om sodoende die beste vir hul kinders te gee. Gesamentlik moet hulle ook hul daaglikse werkslading balanseer met verdere aktiwiteite soos balspeletjies en familie-etes. Die meeste van hierdie leier-ouers besef ook mettertyd die impak en invloed wat hulle op hulle kinders het. Vandag se kinders is immers môre se leiers, veral wanneer daardie kinders ouers het wat reeds leiers is.

Terwyl leierskapsvaardighede in die meeste gevalle natuurlik kom, kan kinders ook belangrike lesse op hul lewensreis leer wat ’n aansienlike impak op hulle toekoms kan hê. Die regte woorde op die regte tyd kan inderdaad ’n groot verskil maak.

Hier is vyftien wenke wat toegepas kan word om kinders of toekomstige leiers te help om die regte vaardighede aan te leer:

  1. Wees ’n goeie voorbeeld

As ’n leier besef jy die belangrikheid daarvan om ’n goeie voorbeeld vir jou span te wees. Dit is egter nog meer belangrik in jou rol as ouer. Deur doeltreffende leierskap leer jy jou kinders hoe om verantwoordelik te wees. As jy jou kinders toelaat om te sien hoe goed jy jou besigheid en persoonlike lewe balanseer, leer jy hulle om verantwoordelik te wees omdat jou doeltreffende leierskap vir hulle as voorbeeld dien.

  1. Moedig spanaktiwiteite aan

Probeer om van vroeg af jou kind se belangstellings te identifiseer en moedig hulle aan om aan groepsaktiwiteite deel te neem. Hierdie groepsaktiwiteite kan skolesport soos rugby, hokkie of netbal wees, of deelname aan die skoolkoor of revue. Hierdie soort aktiwiteite leer vir kinders waardevolle lesse oor spanwerk.

  1. Bou onderhandelingsvaardighede

Elke goeie leier ken die kuns van ’n kompromie. In plaas daarvan om jou kind ’n ferm “ja” of “nee” te gee op ’n versoek, gebruik die geleentheid om jou kind toe te laat om goeie redes te gee hoekom hulle dink jou antwoord “ja” moet wees. Leer hulle verskillende onderhandelingsvaardighede soos byvoorbeeld om nooit iets op te gee sonder om vir iets anders in ruil daarvoor te vra nie. Onthou dat hierdie proses binne perke moet gebeur en dat respek vir die ouers en mense ouer as hulle steeds belangrik is. Dit gaan oor die manier waarop dit gedoen word.

  1. Oefen om met selfvertroue te kommunikeer

Neem jy jou kind se bestelling vir hom wanneer julle by ’n restaurant eet? Jy kan ’n gewone maaltyd gebruik as ’n geleentheid waar selfvertroue gekweek word, deur toe te laat dat jou kind self met die kelner praat en sy eie bestelling plaas. Direkte kommunikasie met die kelners sal kinders help met die bou van selfvertroue en hulle leer hoe om te kommunikeer oor dit wat hulle nodig het.

  1. Hou ’n gesinspeletjiesaand

In plaas daarvan om heelaand voor jou selfoon of televisieskerm te sit, oorweeg eerder ’n bordspeletjie-aand. ’n Gesinspeletjie-aand bied nie net ’n spesiale geleentheid om as gesin tyd saam deur te bring nie, maar dit help ook kinders om te leer hoe om pret te hê, volgens die reëls te speel en strategies te dink.

  1. Maak gebruik van ’n visiebord

’n Prettige wyse om kinders te leer van doelwitstellings is om gebruik te maak van visieborde. Hulle sal dit geniet om prentjies uit te knip en dit op die bord te rangskik. Deur die proses sal hulle leer hoe om die doelwitte wat hulle wil bereik te visualiseer.

  1. Vind ’n mentor

Al is jy ’n goeie voorbeeld vir jou kind, kan ’n mentor vir jou kind van onskatbare waarde  wees. ’n Vriend of familielid wat jy vertrou kan ’n wonderlike mentor wees, veral as daardie persoon dieselfde belangstellings as jou kind het.

  1. Beloon optimistiese denke

Die feit dat optimisme verbind is aan sukses moet nie verlore gaan in jou gesin nie. Beloon optimisme, veral wanneer dit gepaardgaan met die poging om ’n doel te bereik.

  1. Beklemtoon deursettingsvermoë

Die beste leiers leer hoe om mislukking net so goed soos sukses te hanteer. Dit is belangrik om toekomstige leiers aan teleurstellings bloot te stel, eerder as om hulle daarvan te probeer beskerm. Teleurstellings is immers deel van die lewe. Kinders het nodig om te leer hoe om verlies te hanteer en om vorentoe te beweeg wanneer die ander span wen of wanneer iemand anders as spankaptein of klasleier gekies word.

  1. Slyp besluitnemingsvermoëns

’n Kind moet leer hoe om, van so jonk as moontlik, goeie besluite te maak. Omdat te veel keuses en besluite kinders kan oorweldig, moet die opsies verminder word na twee of drie, waaruit hulle een kan kies. Voorbeelde hiervan is die keuse oor watter aktiwiteite hulle die middag ná skool wil doen en watter fliek hulle wil kyk. Leer jou kind om die voor- en nadele van elke opsie in gedagte te hou om sodoende die beste besluit moontlik te maak. Hulle kan dus daarby baatvind om die regte besluite in hulle alledaagse lewe te maak.

  1. Moedig kinders aan om te werk

Kinders is dikwels gretig om te begin werk. As jou kind ’n lemonadestalletjie wil opsit en ’n entrepreneur wil wees, moet jy dus jou kind ondersteun en hom aanmoedig. Wanneer jou kind oud genoeg is, kan hulle werksgeleenthede aangryp soos om ’n babaoppasser te wees of om iemand se gras te sny (kinders se veiligheid moet egter altyd in ag geneem word).

  1. Woon ’n leierkamp by

Leierkampe is gevul met geleenthede waar kinders aan spanbou-aktiwiteite kan deelneem. Wanneer jongmense ’n sekere ouderdom bereik, kan hulle selfs as kamp- of spanleiers by kampe optree. AfriForum Jeug bied juis elke jaar wonderlike jeugkampe vir kinders van verskeie ouderdomsgroepe aan, wat fokus op leierskapsontwikkeling, spanbou, Afrikanergeskiedenis, basiese praktiese vaardighede en wat talle wateraktiwiteite insluit.

  1. Leer projekbeplanningsvaardighede vir jou kind aan

As ’n gesin of familie het julle waarskynlik baie beplande aktiwiteite. Dit kan ’n familievakansie of familiekuiers insluit. Jy hoef nie jou kinders uit te sluit van die beplanningsprosesse nie – maak hulle juis deel daarvan. Behandel elke aktiwiteit asof dit ’n besigheidsprojek is, hou ’n dinkskrumsessie en delegeer kleiner takies aan jou jonger familielede.

  1. Vermy dit om net in te spring

Wanneer jou kind aan ’n projek of aktiwiteit werk, is dit maklik om aan die versoeking toe te gee om in te spring en te help – veral as jy sien dat hulle met iets sukkel. Oorweeg om eerder terug te staan en jou kind toe te laat om self daardeur te werk. Jy kan wel die struikelblokke en uitdagings wat opduik resenseer terwyl die taak vorm aanneem en jy kan jou kind aanmoedig om idees te deel en vir hulle makliker maniere te wys om dinge te doen.

  1. Moedig lees aan

Studies het die voordele wat lees vir pret gedurende kinderjare vir ’n persoon inhou bewys. Kinders wat lees, toon groter intellektuele vooruitgang in ’n verskeidenheid van vakke. Jong lesers is geneig om meer van die wêreld te leer, al is die leesstuk ligsinnig van aard.

AfriForum bied leierskapontwikkelingsessies by laerskole aan saam met Evolve Life. Stuur gerus ’n e-pos aan nicolene.muller@afriforum.co.za of leandie.brasler@afriforum.co.za vir meer inligting en indien jou kind se skool hierby betrokke wil raak.

Soortgelyke plasings