|

Waar staan ons nou met die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys?

Vanaf 2017 bly die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys ’n omstrede brandpunt wat groot kommer wek. Die formaat wat hierdie wetgewing uiteindelik gaan aanneem, gaan bepalend wees vir die toekoms van Afrikaanse skole in die land.

Ervaring met Afrikaanse skole in Namibië het geleer dat moedertaalonderrig in openbare skole letterlik oornag kan verdwyn en dat die reg tot moedertaalonderrig dan ’n luuksheid kan word wat nie vir almal beskore is nie.

Omdat ons taal ’n kernbestanddeel van ons identiteit is en moedertaalonderrig (soos wat dit reeds in die twintigste eeu in skole en tersiêre inrigtings ontwikkel is) die heel beste opvoedkundige opsie vir enige persoon is, doen AfriForum alles in ons vermoë om Afrikaans as medium van onderrig in opvoedkundige instellings te beskerm. Dit verduidelik ook waarom ons ’n onvermoeide veldtog voer om teen die huidige weergawe van hierdie konsepwet standpunt in te neem.

Met elke nuwe weergawe wat verskyn, sorg ons dat ons ’n regsmening deur ’n uiters kundige advokaat indien, maar dat ons ook aan die publiek die geleentheid gee om hulle kommentaar by dié van AfriForum te voeg. Tans het ons weer ’n petisie hierteen (sien https://vegenbou.co.za/red-afrikaans/) en ons sê opnuut dankie aan die sowat 9 000 mense wat dit reeds onderteken het.

In Desember 2021 is ’n hersiene weergawe van die wetsontwerp in die Staatskoerant gepubliseer. In Februarie 2022 is dit aan die parlementêre portefeuljekomitee voorgelê. Die komitee bestaan uit parlementslede van verskeie politieke partye en hulle doel is onder meer om wetgewing goed te keur sodat die parlement daaroor kan besluit voor die president dit onderteken en dit in werking tree, of om dit terug te stuur na die opsteller vir hersiening, of dit na die publiek te verwys vir openbare insette.

AfriForum sê gereeld die toekoms van ons taal en kultuur is in ons hande – geen staatsdepartement of regeringsaksie gaan dit vir ons beskerm of behou nie.

Ons het reeds gewen deurdat die komitee bekend gemaak het dat hulle wel weer die proses vir kommentaar van die publiek gaan open, maar wanneer dit gaan gebeur, is nog nie duidelik nie. Die einde van Maart is skakels na die konsepwet en ’n sperdatum vir kommentaar gesirkuleer, maar intussen het die komiteesekretaris laat weet dat dit net ’n oefenlopie was en dat die konsep eers weer hersien word voor die kommentaarproses amptelik gaan begin.

AfriForum onderneem om ons lede oor die verdere stappe wat nodig is, ingelig te hou en ons petisie voort te sit. Hierdie protesaksie moet nie net deur ouers van skoolgaande kinders ondersteun word nie, maar deur enigeen met ’n liefde vir Afrikaans, of wat enigsins kinders in hulle lewe het vir wie hulle omgee, of selfs deur jongmense wat graag eendag eie kinders wil hê.

AfriForum sê gereeld die toekoms van ons taal en kultuur is in ons hande – geen staatsdepartement of regeringsaksie gaan dit vir ons beskerm of behou nie. Hier is jou kans om daardie verantwoordelikheid na te kom. Teken sommer vandag nog die petisie as jy nog nie het nie en moedig vriende en familie aan om dit ook te doen, sodat ons hierdie gevaarlike konsepwet kan stuit.

Soortgelyke plasings