|

Wat doen AfriForum vir boere?

As burgerregte-organisasie is AfriForum by tientalle projekte, aksies en veldtogte betrokke om die belange en regte van minderhede deurlopend te beskerm. Tog kry die organisasie van tyd tot tyd navrae oor wat spesifiek vir boere gedoen word.

Plaasmoorde:

Een van die grootste veldtogte wat AfriForum in die belang van die landbougemeenskap dryf, is die stryd teen plaasmoorde en –aanvalle. Dit is ’n deurlopende veldtog wat plaaslik en internasionaal gevoer word en waar alles in die stryd gewerp word om bewusmaking van dié krisis te skep.

Gemiddeld 70 mense sterf jaarliks in plaasmoorde wat dikwels met ongekende marteling en brutaliteit gepaard gaan.

AfriForum het reeds in 2008 met protesaksies en optogte teen plaasmoorde begin. Memorandums word gereeld aan die polisie in dié verband gestuur en oor die jare is vordering gemaak met goeie samewerking tussen plaaslike polisiestasies en die organisasie se veiligheidstrukture.

Dit bly egter ’n deurlopende stryd om die ANC-regering te oortuig om plaasmoorde en – aanvalle as prioriteitsmisdaad te verklaar. Onlangs is weer ’n ope brief aan pres. Cyril Ramaphosa gestuur om hom te dwing om sy swye en oënskynlike miskenning van die wrede misdade te verbreek.

Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum, het ook ’n boek, Kill the Boer, oor die fenomeen geskryf wat plaaslik en internasionaal versprei is. Daarin word onder meer gefokus op die rol wat politici se haatspraak teen boere speel om mense op te sweep om boere te vermoor.

Roets en Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het ook verskeie besoeke aan die VSA, Europa en Australië gebring waar met invloedryke meningsvormers, joernaliste en regeringsamptenare vergader is om bewusmaking te skep en om druk op die Suid-Afrikaanse regering te plaas om iets aan die krisis te doen. Die saak van plaasmoorde en die miskenning van minderhede se regte in die algemeen, word ook gereeld by die Verenigde Nasies (VN) geopper. Daarbenewens is AfriForum ook gereeld in gesprek met verteenwoordigers van diplomatieke missies om die kwessie van plaasmoorde aan hul regerings oor te dra.

AfriForum bring ook jaarliks ’n verslag uit oor die omvang van plaasmoorde en –aanvalle om wanpersespies hieroor te weerlê.

AfriForum het ook al ’n landelike veiligheidsplan aan die regering voorgelê en versoek dat spesialiseenhde vir landelike beveiliging daargestel moet word.

In 2015 was AfriForum betrokke by die film Treurgrond wat die werklike omvang van plaasmoorde en –aanvalle uitgebeeld het. In 2020 is ’n dokumentêre film vervaardig oor die wrede moord op Attie en Wilma Potgieter en hul tweejarige dogter, Wilmien, van Lindley in die Vrystaat. Hulle is in 2010 op hul plaas vermoor.

Verlede jaar het die ultramaratonatleet Bennie Roux van Pretoria AfriForum se #HardloopVirHoop-projek ondersteun en meer as 220 km deur die Vrystaat gehardloop ten bate van AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid. Dié eenheid is in 2015 gestig en meer as 250 slagoffers is al bygestaan. AfriForum loop dikwels ’n lang pad saam met van die slagoffers en is ook daar wanneer moordenaars uiteindelik gevonnis word. Die Wilmien Potgieter-fonds is ook gestig om kinderslagoffers van plaasmoorde en – aanvalle by te staan.

Onteiening sonder vergoeding:

AfriForum het sedert die ANC-regering sy planne aangekondig het om wysigings aan die grondwet aan te bring wat onteiening sonder vergoeding moontlik sal maak, internasionaal en plaaslik hierteen protes aangeteken. Verskerpte inligtings- en bewusmakingsveldtogte is geloods om dit teen te staan. Petisies is onderteken en aan die regering oorhandig en die organisasie het sy teenkanting ook tydens parlementêre sessies duidelik gemaak.

Daar was internasionale steunwerwing vir AfriForum se argumente teen onteiening sonder vergoeding wat vrugte afgewerp het met regerings wat gedreig het om beleggings aan die land te onttrek indien die ANC-regering sy planne deurvoer.

Selfs Mike Pompeo, die Amerikaanse Minister van Buitelandse Sake, het gewaarsku dat onteiening sonder vergoeding katastrofies vir Suid-Afrika se ekonomie en die land se bevolking sal wees.

Ook in die verband het AfriForum sy saak by die VN se Forum vir Menseregte, Demokrasie en die Regstaat, asook die Forum vir Minderheidsaangeleenthede gestel om steun te werf teen die regering se voorgenome grondwetwysigings.

AfriForum nader op ’n gereelde basis kundiges om verslae op te stel oor wat die ekonomiese en ander gevolge van onteiening sonder vergoeding sal wees.

Die burgerregte-organisasie het ook al verskeie video’s vrygestel om die ware feite oor grondbesit in die land uit te wys as teenvoeter vir die leuens van sommige politici wat beweer dat wit mense die grond gesteel het.

AfriForum het ook deelgeneem aan en voorstelle ingedien by die openbare verhore wat oor die wysiging van artikel 25 van die grondwet gehou is.

Die organisasie is ook gereed om onteiening sonder vergoeding tot in die hoogste hof te beveg.

Landelike veiligheid

AfriForum het sowat 150 buurt- en plaaswagte wat gemeenskappe help beveilig. Hierdie veiligheidstrukture word deurlopend opgelei en van toerusting voorsien om misdaad te help bekamp. Talle suksesse is al behaal met verdagtes wat aangekeer is en gesteelde goedere wat teruggekry is.  Einde verlede jaar het 132 gemeenskappe aan AfriForum se nasionale patrollie deelgeneem waartydens 187 voorvalle hanteer is en bykans 100 000 km in sowat 2 700 privaat voertuie afgelê is.

Boere se veiligheid en vermoë om hulself te beveilig en te bewapen is deurlopend op AfriForum se agenda en veiligheidswenke word gereeld gekommunikeer. ’n Assesseringsgids vir plaasveiligheid is ook gratis beskikbaar.

Grondgrype:

Grondgrype en onwettige grondbesettings is aan die orde van die dag.

AfriForum se veiligheidstrukture en regspan het tot op hede verskeie suksesse behaal om onwettige besettings af te weer en in sommige gevalle is daar in samewerking met die Rooimiere en die polisie onwettige strukture afgebreek.

AfriForum maak boere en eienaars van landbougrond op ’n gereelde basis bewus van die toename in grondgrype en gidse met riglyne is vrygestel om boere in te lig oor wat hul te doen staan wanneer daar onwettige besettings op hul grond plaasvind. AfriForum gee ook regsadvies in die verband en verskeie hofsake is al gewen.

Droogtehulp:

AfriForum het die afgelope paar jaar ook ’n droogtehulp-projek gedryf vir boere wat onder die uitgerekte droogte gebuk gegaan het. Tonne voer is ingesamel en aan boere in nood in onder meer die Noord-Kaap en Vrystaat versprei. AfriForum was ook betrokke by die Boks vir ’n Boervrou-projek waar meer as 8 000 bokse ingesamel en aan boervroue in nood gestuur is.

Saai:

AfriForum en die familieboernetwerk Saai werk op verskeie terreine saam om die belange van familieboere te bevorder. Sedert die staat van inperking het die organisasies hande gevat om boere te help om reis- en ander permitte te kry. Die regering word ook in die howe aangevat om boere in staat te stel om met die produksie en uitvoer van produkte voort te gaan. Met die toename wat daar in plaasaanvalle was nadat die inperkingsmaatreëls verslap is, het AfriForum en Saai geveg dat buurt- en plaaswagte hul wettige bedrywighede kon hervat en met patrollies kon voortgaan.

Soortgelyke plasings