Munisipaliteite

PLAASLIKEREGERINGSAKE

Wat is plaaslikeregeringsake?

Plaaslikeregeringsake fokus op die plaaslike regeringsvlak – daardie vlak van regering wat naaste aan die mense gesetel is en landwyd uit 257 munisipaliteite bestaan. Die land is in nege provinsies verdeel en hierdie provinsies is op hul beurt in agt metro’s, 205 plaaslike en 44 distriksmunisipaliteite verdeel. Hierdie 257 munisipaliteite word dus onder die sambreel van plaaslike regering vervat.

Waarom is AfriForum by plaaslikeregeringsake betrokke?

Uiteraard is munisipaliteite die naaste vlak van regering aan die mense en dit maak daarom geweldig baie saak wat op plaaslike vlak gebeur. Die Grondwet het ’n wye reeks magte en bevoegdhede aan munisipaliteite toegeken om belangrike dienste aan hul inwoners te lewer, waaronder die lewering van water en elektrisiteit, en die instandhouding van paaie. Hoewel dit hul plig is, kan en wil baie munisipaliteite regoor die land om verskeie redes nie dié funksies verrig en mandate nakom nie. AfriForum se plaaslikeregeringsake-afdeling vervul daarom die rol van burgerlike instelling wat gemeenskappe op plaaslike vlak help om probleme op te los en munisipaliteite tot verantwoording te roep.

Hoe is AfriForum hierby betrokke?

AfriForum volg ’n tweeledige strategie wat plaaslike regering en in wese alle gemeenskapsake betref: Druk en selfbestuur. Gemeenskappe is landwyd steeds grootliks van munisipale infrastruktuur (soos waterpype en elektrisiteitsnetwerke) afhanklik, maar dié infrastruktuur word in die algemeen swak bestuur. AfriForum plaas daarom op allerlei maniere druk op munisipaliteite om byvoorbeeld munisipale korrupsie hok te slaan, waterlekke en -toevoer te herstel, slaggate in paaie reg te maak en seker te maak dat inwoners se elekrisiteitstoevoer en -pryse reg en billik is.

Hierbenewens is AfriForum se langtermynstrategie dat gemeenskappe selfonderhoudend ten opsigte van dienste word. Selfs al bestaan die wil by die staat om dienste na behore aan inwoners te lewer, is daar ’n duidelike gebrek aan vermoë om dit te doen – veral in die platteland, maar ook toenemend in die metro’s. Op die langer termyn moet daar dus aan alternatiewe tot staatsgedrewe dienslewering gewerk word.

Mediaverklarings