|

Wat kan ek doen as ek afgeknou word?

Deur: Leandie Bräsler

DEFINISIES

Afknouery is enige gedrag wat iemand omgekrap, ongemaklik en onveilig laat voel. Hierdie soort gedrag word gewoonlik doelbewus en herhaaldelik uitgevoer en neem verskeie vorme aan, soos verbaal, fisies en emosioneel.

Verbale afknouery is wanneer die boelie iemand beledig, die spot met hulle dryf op ’n neerhalende wyse en dreigemente uiter.

Emosionele afknouery is wanneer negatiewe aksies herhaal word, nie noodwendig op ’n fisiese of verbale manier nie, wat gebruik word om ander aspris emosioneel seer te maak deur byvoorbeeld skinderstories te versprei, sosiale uitsluiting, om iemand se besittings te steel, te vernietig of te beskadig, intimidasie deur gebare of dreigemente, en kuberafknouery.

Fisiese afknouery is wanneer die boelie sy liggaam gebruik om die slagoffer af te knou, bv. om iemand te skop, te slaan, te knyp of te boks. Hierdie vorm van afknouery kan makliker as verbale en emosionele afknouery raakgesien word.

WAT KAN EK DOEN AS EK AFGEKNOU WORD?

As jy op enige wyse afgeknou word, kan jy mismoedig, hulpeloos of alleen voel. Jy moet wel weet dat jy nooit alleen is nie. Daar is mense rondom jou wat vir jou omgee en jou wil help. Dit is dus baie belangrik dat jy met iemand gesels wat jy vertrou.

Afknouery by die skool

  • Moenie in stilte ly nie Elke skool het ’n plig om na sy leerders te kyk en vir hulle om te gee. Wanneer jy by die skool afgeknou word, is dit belangrik om met ’n onderwyser daaroor te praat. Dit kan enige onderwyser of personeellid wees wat jy vertrou. Jy kan ook met ’n ouer of voog praat.
  • Hou die bewyse Hou rekord van wat gebeur – onthou die vier “W’s”: Wat, Waar, Wanneer, W Dit sal die persoon wat jou ondersteun, help om die situasie te verstaan en hy/sy sal jou dan kan help om die situasie op te los.
  • Beplan die volgende stappe Jou skool kan ’n aksieplan in werking stel om afknouery in die skool hok te slaan en om jou veilig en vry van alle leed te hou.

Afknouery buite skoolverband

  • Praat met jou onderwyser – Al word jy buite skoolverband afgeknou en die persoon is wel in jou skool, is dit steeds jou skool se omgeeplig om in te gryp.
  • Praat met die boelie se onderwyser – Wanneer die persoon wat jou afknou nie in jou skool is nie en jy weet wel in watter skool hy/sy is, kan jy steeds met jou onderwyser of ouers gesels; hulle kan die boelie se skool kontak, wat dan moet optree.
  • Praat met die polisie – Wanneer die boelie ’n vreemde persoon is, kan jy die polisie kontak en die persoon en voorval aan hulle verduidelik sodat hulle vir jou advies kan gee.

 

Maak seker dat jy die bostaande stappe volg en gesels met persone binne en buite skoolverband wat jy kan vertrou. Hierdie persone gee vir jou om en sal saam met jou werk om afknouery hok te slaan. Bly positief; jy is nie alleen nie en die situasie waarin jy jou nou bevind, sal beter raak.

WAT KAN EK DOEN AS MY KIND AFGEKNOU WORD?

Jongmense voel dikwels dat hulle afknouery alleen ervaar en jou kind is dalk bang om jou daarvan te vertel, want s/hy dink dalk dat jy kwaad of teleurgesteld sal reageer. Dit is belangrik dat jy toegerus is met die regte gereedskap sodat jy jou kind veilig, gelukkig en vry van afknouery kan hou.

ou kind is dalk bekommerd oor jou reaksie; probeer dus om kalm te bly en maak seker dat jy vir hom/haar dankie sê omdat hy/sy hierdie nuus met jou gedeel het. Dit is baie belangrik om te luister na wat jou kind vir jou sê en om sy/haar gedrag dop te hou. Jou kind wil weet dat jy in hom/haar glo wanneer hy/sy praat en dat jy hom/haar in hierdie tyd sal ondersteun. Wanneer jou kind sy/haar vertroue in jou stel, beteken dit dat hy/sy jou hulp en ondersteuning wil hê. Dit is belangrik om met hom/haar te gesels oor hoe julle saam kan optree om afknouery hok te slaan: vra jou kind wat hy/sy graag sal wil hê jy moet doen. ’n Goeie eerste stap is om met die skool in verbinding te tree; maak ’n afspraak met jou kind se onderwyser. Skole het ’n plig om vir jou kind te sorg en om seker te maak dat hy/sy veilig is.

WAT KAN EK AS ONDERWYSER DOEN AS MY LEERDERS AFGEKNOU WORD?

Alle skole moet ’n beleid oor afknouery hê wat bepaal watter tipe stappe deur personeel gedoen kan word. Dit is belangrik om hierdie riglyne te volg en om dit ook vir ondersteuning te gebruik. Wanneer ’n leerder na jou toe kom en verduidelik dat hy/sy afgeknou word, kan jy die volgende doen:

Bedank hulle Sê vir hom/haar dankie dat hy die moed gehad het om met jou te kom praat en dat hy/sy dapper en moedig genoeg is om sy/haar stem te laat hoor.

Verduidelik Vra die leerder om te verduidelik wat presies gebeur het en of hy/sy die presiese tyd, datum en plek kan onthou waar die voorval plaasgevind het. Vra hom/haar ook of hy/sy die boelie kan identifiseer.

Raadpleeg hulle Afknouery kan jongmense skaam laat voel en hulle kan dalk ook voel of hulle nie beheer oor die hele situasie het nie. Vra die leerder wat die volgende stap is wat hy/sy sal wil doen. Dit is belangrik dat hy/sy in hierdie proses seggenskap het, want hy/sy sal dalk nie wil hê dat jy dadelik met die boelie moet praat nie.

Lig ouers in Laat die leerder se ouers weet dat hulle ’n ogie oor die kind by die huis moet hou.

Afknouery kan ’n kind se vermoë beïnvloed om te studeer, asook die kind se vermoë om vriendskappe te vorm en te behou. Maak seker dat jy vertroud is met die skool se beleid oor afknouery, en indien nodig moet hierdie beleid bygewerk word sodat dit toepaslik en verstaanbaar bly. Maak seker dat alle personeellede by die skool bewus is van die beleid en dat die prosedures wat tydens ’n afknouvoorval gevolg moet word, ook aan hulle bekend is.

Raadpleeg AfriForum se gids oor afknouery vir meer inligting: https://afriforum.co.za/wp-content/uploads/2019/06/Teenboeliegids.pdf

Soortgelyke plasings