|

Watererosie probleem in Springs opgelos ná volgehoue druk deur AfriForum

Die AfriForum-tak in Springs het in Maart ’n skrywe aan die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit gerig om hulle in kennis te stel van konstante watervloei langs Grootvleiweg. Die afgelope twee jaar het die water konstant oor die pad gevloei en ’n gevaar ingehou vir motoriste op die pad. Die munisipaliteit het op 1 April ’n tydelike oplossing aangewend om die vloei van water oor die padoppervlak te verminder. AfriForum se Springs-tak het ook ’n skrywe ontvang gedurende die week waarin die metro erken dat hulle van die probleem bewus is, en dat hulle reeds planne in plek het om die probleem permanent op te los.

“In die skrywe het ons die gevaar van erosie aan die munisipaliteit voorgelê, erosie beskadig onder meer die padoppervlak. Hierdie skade hou gevare in vir motoriste en het ook ’n nadelige finansiële impak op die munisipaliteit aangesien herstelwerk gedoen moet word. Ons het daarom die munisipaliteit gemaan om dringend aandag aan die probleem te gee. Ons bedank graag die munisipaliteit vir hulle terugvoer en vir die aandag wat hulle aan die probleem skenk. Die takbestuur sal die gemeenskap op hoogte hou van die proses en vordering,” sê Cornel Swart, voorsitter van AfriForum se Springs-tak.

“Volgens die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels, 2000 (Wet no. 32 van 2000) het gemeenskappe die reg om ’n aktiewe rol in plaaslike regering te speel om te verseker dat die regte van gemeenskappe beskerm word. Dit is van kardinale belang dat ons gemeenskappe die regte prosesse volg en druk plaas op munisipaliteite om plaaslike regering kwessies aan te spreek. Hierdie is ’n uitstekende voorbeeld van die sukses wat behaal kan word indien ’n gemeenskap volgehoue druk toepas,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

Raak vandag nog by die plaaslike AfriForum-tak betrokke deur ’n epos te stuur na springs@afriforumtak.co.za.

Soortgelyke plasings