Weermag-ingryping slegs tydelike oplossing


Die burgerregte-organisasie AfriForum verwelkom die weermag se ontplooiing in die Wes-Kaap se bendegeteisterde gebiede.

Dié aankondiging volg nadat 13 mense binne 24 uur in Philippi vermoor is. Volgens die Wes-Kaapse provinsiale regering is 1 875 moorde tussen 1 November 2018 en 30 April 2019 in dié provinsie gepleeg.

“Ons verwelkom die besluit, maar dit is slegs ’n tydelike verligting. Die polisie, in samewerking met die Nasionale Vervolgingsgesag en die departement van korrektiewe dienste, is die staatsinstellings wat primêr die probleem moet oplos,” sê Johandré van Zyl, AfriForum se veiligheidshoof vir die suidstreek.

Volgens genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, sal die weermag onder die polisie se bevel wees.

“Dit kan moontlik problematies wees aangesien die weermag nie opgelei is om polisietake uit te voer nie, maar hul teenwoordigheid sal die gebied stabiliseer,” sê Van Zyl.

Die weermag gaan voorlopig vir drie maande in hierdie gebiede ontplooi word en dit kan moontlik verleng word.

Soortgelyke plasings