|

Welkom-tak tree dringend op om rioolblokkasies oop te maak

Die AfriForum-tak in Welkom het as deel van die organisasie se #OnsDorp-projek op 1 Augustus 2022 vir Fouche Loodgieters aangestel om ’n mangate en rioolpype op die hoek van Kennaughstraat en Dvoraklaan te ontblok en skoon te maak. Dít volg nadat inwoners van Welkom AfriForum genader het met klagtes oor rou riool wat op sommige plekke in hul erwe en strate oorspoel en dat hulle al ’n geruime tyd probleme met hul dreine ervaar.

Die organisasie het sedert Augustus 2019 reeds verskeie skrywes aan die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit gerig oor rou riool in erwe. Die rou riool hou verskeie gesondheidsrisiko’s vir die inwoners in en dit vloei soms vir weke aaneen uit die mangate. Dit is op sommige plekke só erg dat mense om die riool en selfs deur dit moet beweeg om by hul voertuie uit te kom. Die munisipaliteit het tot op hede egter geen poging aangewend om hierdie probleem op te los nie.

“AfriForum kon nie meer toekyk hoe hierdie mense elke dag in en om die riool moes leef nie. Daarom het ons ingespring om die inwoners se omgewing te verbeter. Inwoners het die reg tot ’n skoon omgewing en dit is skokkend om te sien dat die munisipaliteit niks aan hierdie situasie doen nie,” sê Johan Terblanche, voorsitter van die Welkom-tak.

“Munisipaliteite is verantwoordelik om hul pligte na te kom. AfriForum glo in selfdoen en ons sal, waar ons kan, self oplossings vir probleme vind. Ons is tans besig met die voorbereiding van ’n hofsaak teen die munisipaliteit oor die swak instandhouding van die pompstasies en die waterwerke,” sê Chris Morgan, distrikskoördineerder vir die Hoogland. AfriForum sal voortgaan om hierdie probleme onder die munisipaliteit se aandag te bring en sal ook aanhou om druk toe te pas totdat dit reggestel is.

AfriForum se Welkom-tak nooi die gemeenskap uit om by die organisasie se toekomstige projekte betrokke te raak. Sluit by AfriForum aan en word deel van die oplossing: SMS “Welkom” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings