|

Welkom-tak tree dringend op om rioolblokkasies te ontblok

Die AfriForum-tak in Welkom het op 31 Mei vir Fouche Loodgieters aangestel om ’n reuse-rioolverstopping naby die Checkers in hierdie dorp te ontblok en die rioolpype skoon te maak. Dít volg nadat die kontakteurs wat die munisipalitiet op tenders aangestel het glo blokkasies in die pyplyn gelos het. Dit het tot gevolg gehad dat rou riool in ondernemingspersele in die gebied oorspoel.

Die organisasie het sedert Augustus 2019 reeds verskeie skrywes aan die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit gerig oor rou riool in erwe. Die rou riool hou verskeie gesondheidsrisiko’s vir die inwoners in en dit vloei soms vir weke aaneen uit die mangate. Dit is op sommige plekke só erg dat mense om die riool en selfs deur dit moet beweeg om by hul voertuie uit te kom. Die munisipaliteit het tot op hede egter geen poging aangewend om hierdie probleem op te los nie.

“AfriForum het ingespring om die inwoners se omgewing te verbeter. Inwoners het die reg tot ’n skoon omgewing en dit is skokkend dat die munisipaliteit niks aan hierdie situasie doen nie,” sê Johan Terblanche, voorsitter van die Welkom-tak.

“Daar is ook in Mei 2022 strafregtelike klagtes ingedien teen die munisipale bestuurder om aanhou druk op die Matjhabeng-munisipaliteit toe te pas om die munisipaliteit tot verantwoording te roep en dat geregtigheid kan geskied,” sê Chris Morgan, distrikskoördineerder vir die Hoogland.

AfriForum se Welkom-tak nooi die gemeenskap uit om by die organisasie se toekomstige projekte en aksies betrokke te raak. Sluit by AfriForum aan en word deel van die oplossing: SMS “Welkom” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings