|

Wenner van Entrepreneur van die Jaar-kompetisie aangewys

AfriVriendelik, ’n inisiatief van AfriForum, het vanjaar met Akademia saamgewerk om die Entrepreneur van die Jaar aan te wys.

Marita Bezuidenhout van Magies vol Liefde is op 31 Oktober 2019 by Mangwa Valley Lodge as die algehele wenner van vanjaar se kompetisie aangewys. Haar passie vir haar onderneming, besigheidskennis en innemende geaardheid het beslis in haar guns getel.

Sowel beoordelaars as finaliste moes na elke finalis se voorlegging kyk. Die finaliste is verras met twee ander pryse: die prys vir die publiek se gunsteling (waarmee Anelia Prinsloo en Rhona Erasmus van Pienkvoet-Pret weggeloop het), asook die prys vir die finaliste se gunsteling (waarmee Karla Swanepoel van Flink weggestap het).

Die beoordelaars by vanjaar se kompetisie was:

  • Daniël Malherbe, eienaar van Lumico, ’n digitale agentskap wat nasionale en internasionale ondernemings se digitale ekostelsels bestuur;
  • Danie Marais, senior kredietbestuurder by Absa wat spesialiseer in die vervoerbedryf en die regruk van ondernemings;
  • Marco van Niekerk, uitvoerende hoof van Outdoor Investment Holdings, Suid-Afrika se grootste vertikaal geïntegreerde groot- en kleinhandelaaronderneming wat op die buitemuursportwarebedryf fokus;
  • Minette van der Walt, inhoudsregisseur van onder meer Winslyn (kykNET), ’n informatiewe program wat aktuele kwessies in die sakewêreld aanroer en op entrepreneurs, ondernemings en tegnologie fokus; en
  • Rina Lombard, eienaar van Is Moz Bos, wat muskietafwerende produkte formuleer en regoor die wêreld aan handelaars verskaf.

Akademia het die bekende Sakeplan-kompetisie vir vier jaar lank (2013 tot 2016) aangebied. AfriVriendelik bied die Entrepreneurskompetisie sedert 2017 aan.  Meer as 250 entrepreneurs het intussen aan dié kompetisie deelgeneem en meer as 8 000 lede van die publiek het vir hul gunstelinge gestem.

Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriVriendelik en AfriForum Netwerk, is baie opgewonde oor hul tweede entrepreneurskompetisie. “Daar is groot pryse op die spel, maar wat hierdie kompetisie veral uniek maak, is die platform wat dit aan die wenner bied. Die wenner se produk of diens word wyd op verskillende sosiale media platforms versprei, asook op nuuskanale soos Maroela Media en Pretoria FM, en in die Forum Nuus en Forum Tydskrif,” sê Van der Walt.

“Ons wil plaaslike entrepreneurs aanmoedig en beloon. Ons sien hulle harde werk raak en harde werk is noodsaaklik om in Suid-Afrika suksesvol te wees.”

Paul Vogel, operasionele bestuurder by Akademia, vertel dat dié instansie ’n trotse vennoot is van die Afrikaanse entrepreneurskompetisie, wat elke jaar nóg groter en beter raak.

“Dié kompetisie skep die ideale geleentheid vir entrepreneurs wat ’n publisiteitshupstoot nodig het en uitstekende advies van kundiges in die gebied wil ontvang.”

Soortgelyke plasings