|

Wenners van Skolekuns-kompetisie aangewys; kunsuitstalling geopen

AfriForum Sakenetwerk het vandag hul eerste kunsuitstalling in samewerking met AfriForum Teater by dié teater se galery, die Prag en Praal Kunskraal bekendgestel en geopen. Dié uitstalling gaan gepaard met Sakenetwerk se Skolekuns-kompetisie, wat ook die kuns is wat uitgestal word. Kinders van regoor Suid-Afrika se kuns word tot einde Januarie 2022 by dié galery uitgestal. Meer as 100 van die inskrywings word uitgestal en te koop aangebied.

“By AfriForum Sakenetwerk wil ons kinders wat ’n liefde het om skeppend te wees juis aanspoor om ook dié talent te gebruik om vir hulself ’n toekoms te skep,” sê Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk. Dit is juis waarom die kuns ook te koop aangebied word – ons wil dié jong kunstenaars se entrepreneuriese denke ontwikkel en bevorder deur hulle ook op hierdie wyse te ondersteun.

Die publiek is welkom om by die Prag en Praal Kunskraal in Menlopark, Pretoria, in te loer en kuns vir Kersfees te koop.

Volgens Carien Bloem, bestuurder by AfriForum Teater, is een van die teater se oogmerke om ’n gemeenskapsteater te wees en veral ook om ’n teater te wees waar kinders moet tuis voel. “Deur dié uitstalling te ondersteun gee ons blootstelling aan jong kunstenaars en nooi ons graag ander kunstenaars uit om deel te wees van dié teatergemeenskap.”

Die wenners in die onderskeie kategorieë is:

6 tot 8 jaar: Lilly-Ann Brunette (wenner) en Hayden Liebenberg (naaswenner)

9 tot 11 jaar: Luhan Opperman (wenner) en Heinrich van der Merwe (naaswenner)

12 tot 14 jaar: Janel van der Merwe (wenner) en Jayden Langenhoven (naaswenner)

15 tot 18 jaar: Nika Carstens (wenner) en Kyla Vermeulen (naaswenner)

Elk van die wenners en naaswenners stap weg met kontant in hul sak – genoeg om weer terug te ploeg in die goeie werk wat hulle tot hier gebring het.

Die beoordelaars van dié kompetisie was Kobus Galloway (Idees Vol Vrees), Christelle Web-Joubert (RSG-aanbieder), Rozier van Tonder (fotograaf), Annemie Odendaal (kontemporêre kunstenaar) en Jana Nel (eienaar van ’n keramiekateljee).

Soortgelyke plasings