|

Wenners van tweede virtuele Dink of Sink triomfeer oor inperkings en uitdagings

AfriForum bied die afgelope ses jaar ’n uiters suksesvolle onvoorbereide nasionale debatskompetisie onder die vaandel van Dink of Sink aan. Dié kompetisie moes vanjaar vir die tweede agtereenvolgende keer weens die COVID-19-inperkings slegs virtueel plaasvind. Dit het egter nie die deelnemers se entoesiasme gedemp nie. ’n Ryk oes van 64 debatinskrywings is ontvang (nege meer as in 2020), wat pas klaar beoordeel is. Die wenners se pryse word deur AfriForum en Akademia geborg.

Hoërskoolleerders kon aan die virtuele kompetisie in spanne van drie elk deelneem. Omdat die doel van die kompetisie is om hulle belangstelling in aktuele sake te ontwikkel en hulle te leer om op hulle voete te argumenteer, het onderwerpe soos gebruiklik oor onlangse nuusgebeure en brandpunte gehandel. Die onderwerpe is telkens uniek vir elke span geskep sodra hulle inskrywings aanlyn ingestuur is. Spanne moes hulle debat dan opneem en binne ’n vasgestelde tyd afhandel, waarna dit virtueel ingedien moes word.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is dit verblydend om te sien dat die leerders, onderwysers en afrigters ten spyte van uitdagende omstandighede met soveel geesdrif deelgeneem het. “Dikwels moes opnames van debatte uitgestel word omdat iemand siek was, moes isoleer, of selfs ’n geliefde aan die dood afgestaan het. Nogtans het die spanne deurgedruk en debatte van hoogstaande gehalte ingeskryf. Ons opregte dank gaan aan elke deelnemer, onderwyser en afrigter wat moeite gedoen het om ten spyte van die moeilike omstandighede, Afrikaanse debattering en die kompetisie lewendig te hou.”

“Dit is bemoedigend om te sien hoe skoledebat van krag tot krag gaan, ten spyte van die uitdagende omstandighede van die afgelope twee jaar. Skoledebat is so gesond en mededingend soos altyd en berei ’n wonderlike generasie van jong leiers vir ons land se toekoms voor,” sê Daniël Eloff, een van die kompetisie se beoordelaars.

Leah van Heerden, projekkoördineer van die skolemark by Akademia, sê dat Akademia jaarliks by Dink of Sink betrokke is om voornemende studente te ondersteun wat graag die kuns van debatvoering wil bemeester. As privaat hoëronderwysinstelling, ondersteun Akademia graag die Afrikaanse gemeenskap met opbouende inisiatiewe soos dié, waar debatvoering uiteindelik ’n baie nuttige werksplek- of lewensvaardigheid is om te ontwikkel.

Die wenners is:

Junior kategorie:

Wenspan: Elanzé Kuhn, Nicol Jordaan en Waldo Haasbroek van Helpmekaar Kollege

Naaswenners: Nelius van Graan, Karla Prinsloo en Lilian Geecki van Helpmekaar Kollege

Senior kategorie:

Wenspan: Megan Kruger, Miné Hermann en Megan Jones van Afrikaanse Hoër Meisieskool

Naaswenners: Ruben Joynt, Wian van Rooyen en Jan Wiese van Afrikaanse Hoër Seunskool

Vanjaar word pryse ook toegeken aan die ses beste individuele sprekers in die twee kategorieë. Dit is spanlede wat hulle standpunte besonder goed kon motiveer of oordra, of uitsonderlike keurige Afrikaans ingespan het om dit te doen. Hulle is:

Junior kategorie:

Elanzé Kuhn (Helpmekaar Kollege)

Karla Loots (C&N Sekondêre Meisieskool Oranje)

Klara Brand (Hoërskool Durbanville)

Marelize Meyer (Hugenote Hoërskool)

Tanya Pieterse (Hoërskool Nelspruit)

Eileen Vermeulen (Hoërskool DF Malan)

Senior kategorie:

Megan Kruger (Afrikaanse Hoër Meisieskool)Jan Wiese (Afrikaanse Hoër Seunskool)

André van Graan (Helpmekaar Kollege)

Elsabé Paulsen (C&N Sekondêre Meisieskool Oranje)

Danielle Roux (Durbanville Hoërskool)

Simon Killian (Hoërskool Linden)

AfriForum hoop dat die Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie aanstaande jaar weer soos oudergewoonte sal plaasvind met vier streeksuitdunne en ’n nasionale finaal in Pretoria. Die formaat en datums sal aangekondig word sodra daar meer sekerheid in dié verband is.

Soortgelyke plasings