Wêreldwatermoniteringsdag beklemtoon AfriForum-watermoniteringstrategie

 

AfriForum vier sy suksesvolle watermoniteringstrategie vandag op  Wêrelwatermoniteringsdag en doen ‘n beroep op sy lede en die hele Suid-Afrika om die belangrikheid van ons waterbronne te koester.

“Die primêre doel van Wêreldwatermoniteringsdag is om burgers op te voed en te betrek by die beskerming van die wêreld se waterbronne. Baie mense is nie bewus van die impak wat hulle gedrag op die kwaliteit van water het nie. Deur selfs net basiese moniteringstoetse op water uit te voer, kan mense die mees algemene indikators van die welstand van waterbronne leer ken,” sê Marcus Pawson, AfriForum se hoof van omgewingsake.
AfriForum is van mening dat ’n onafhanklike waterreguleerder ’n betekenisvolle rol in Suid-Afrika kan speel en moontlik kan lei tot die verbetering van watergehalte, -voorsiening en -bestuur. “Indien Suid-Afrika ’n onafhanklike waterreguleerder het wat nie vir politieke inmenging vatbaar is nie en wat water- en dienstewetgewing sal afdwing, behoort ons minder lekkasies, minder openbare klagtes en protes, skoner riviere en damme, gesonder gemeenskappe, ’n groeiende ekonomie en meer water te hê,” sê Chris Boshoff, AfriForum se koördineerder van omgewingsake.
Dit is ironies dat die departement van water en sanitasie Watermoniteringsdag vier, maar dat dié departement se blou-en-groendruppelverslag laas in 2013 vir die publiek bekendgestel is. Gewone mense ly die meeste onder die waterkrisis en omdat ons nie meer op die regering kan staat maak nie, moet ons voortgaan om watergehalte self te toets,” sê Boshoff.
AfriForum stuur jaarliks ’n blou-en-groendruppelprojek van stapel waar die kwaliteit van bykans tien miljoen mense se drink- en rioolwater (blou is drinkwater en groen is riool) getoets word. AfriForum se 2017-drinkwatertoetse het gewys dat drie dorpe se drinkwater nie op standaard is nie en dat 59 uit 88 dorpe se rioolwaterstelsels nie aan die gehaltestandaarde voldoen nie. “Nagenoeg 4 200 megaliter onbehandelde rioolwater word daagliks in ons land se riviere gestort,” aldus Boshoff.

Die goeie nuus wat egter dui op die waarde van gereelde en gestruktureerde watermonitering is dat al drie die dorpe waarvan die drinkwater nie vanjaar se bloudruppeltoetsing geslaag het nie, nou weer skoon is ná druk op die betrokke owerhede geplaas is. Ook wys die feit dat daar vanjaar drie dorpe gevind is waarvan die drinkwater nie op standaard is nie, vergeleke met 2016 se sewe dorpe en dat nie een van die dorpe van 2016 se water in 2017 weer vuil was nie, dat aktiewe monitering en toetsing vrugte afwerp.
Opknappingswerk is ook aan rioolpompstasies aangebring en hofsake is in proses oor substandaard rioolwaterstelsels. Sake wat aanhangig gemaak is in samewerking met die groen skerpioene gaan voortaan ’n nuwe maatstaf in Suid-Afrika stel. Verder het AfriForum ook vanjaar ’n nuwe watersuiweringsproduk bekend gestel.
AfriForum is ondermeer ook besig met ’n omvattende waterstrategie vir gemeenskappe in samewerking met ervare waterkundiges wat binnekort bekendgestel sal word. Volgens AfriForum is water té belangrik om dit in die bestuur van die regering te los.
SMS jou naam na 45354 (R1) om AfriForum se aksie te ondersteun.

Soortgelyke plasings