Werkende mense en eienaars van privaat eiendom uitgesluit by openbare deelname oor onteiening


Die burgerregte-organisasie AfriForum het sy beswaar uitgespreek oor die feit dat werkende mense uitgesluit word van die openbaredeelnameproses wat deur die parlementêre komitee gereël word oor onteiening sonder vergoeding.
Dit volg nadat die komitee aangekondig het dat al die openbaredeelnamevergaderings om 11:00 in die oggend sal plaasvind. AfriForum het vroeër aan die komitee geskryf en gewaarsku dat die organisasie weens ’n verskeidenheid van ooglopende prosedurele gebreke regsadvies sal inwin oor die proses wat gevolg word om met die publiek te konsulteer.

In ’n skrywe aan die voorsitters van die parlementêre komitee het Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, gesê dat die gevolg hiervan is dat werkende mense – en diegene wat mees waarskynlik eienaars van privaat eiendom is – van die proses uitgesluit word. “Dit is onverstaanbaar dat ’n proses van openbare deelname georganiseer word met die doel om die publiek se insette oor onteiening van privaat eiendom te kry, terwyl die einste mense wat die risiko loop om hul eiendom te verloor by die proses uitgesluit word,” sê Roets.

Roets herbevestig dat dit vir AfriForum voorkom of die proses op ’n bepaalde wyse gestruktureer en gemanipuleer word met die doel om ’n bepaalde uitkoms te verseker – naamlik ’n uitkoms wat strook met die standpunt van die regerende party.

Soortgelyke plasings