Werknemers moet terugkeer na Eskom; AfriForum berei steeds regsaksie voor

Terwyl Suid-Afrika in die donkerte gedompel is laat Dinsdagmiddag, het die National union of Mineworkers(NUM)en National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa) ingestem om dié komende Vrydag (1 Julie) saam met Eskom te vergader ten einde hul onderhandelings rondom salarisverhogings voort te sit. Beide unies het hul stakende lede instruksie gegee om terug te wees op hul poste om die sukkelende kragvoorsiener aan die gang te hou.

AfriForum verwelkom hierdie verwikkeling en beskou dit as reaksie op die burgerregteorganisasie se beoogde regsaksie om wetstoepassers te verplig om teen onwettige stakers op te tree wat verantwoordelik is vir sabotasie, intimidasie en inmenging by onderskeie kragstasies regoor die land. AfriForum het egter sy regspan opdrag gegee om steeds voort te gaan met die optrek van hofstukke, ter voorbereiding van enige verbrokkeling in die onderhandelinge tussen Eskom en vakbonde wat weer tot onrus kan lei.

“Die situasie tussen Eskom en die betrokke vakbonde is uiters troebel op hierdie stadium. Ons glo dat enige ontevredenheid aan die vakbonde se kant tydens die onderhandelinge weer tot onrus en gewelddadige, onwettige stakings kan lei by Eskom se kragstasies, sowel as ander belangrike infrastruktuur. Ons sal dus die situasie dophou en toesien dat ons gereed is om die howe te nader sou dit nodig wees om enige verdere verbrokkeling van die kragnetwerk te voorkom,” sê Armand Greyling, AfriForum se regs-en-risikobeampte.

Soortgelyke plasings