Wes-Kaap-ouers se tyd raak min om kinders vir 2020-skooljaar te registreer


AfriForum Onderwys moedig ouers in die Wes-Kaap aan om hul kinders betyds vir die 2020-skooljaar te registreer. Dít volg nadat die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) op 15 Februarie 2019 aankondiging het dat ouers slegs tot 15 Maart 2019 kans het om hul kinders vir graad R, graad 1 en graad 8 te registreer – daarom dié dringende versoek van AfriForum om ouers van die spertyd bewus te maak.

“Die WKOD het hierdie jaar ook besluit om ’n aanlynregistrasiestelsel op die proef te stel deur sekere skole in die Wes-Kaap te identifiseer, waarvoor ouers nou aanlyn kan registreer,” sê Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwys.
“Ouers kan steeds ook persoonlik by skole registreer. AfriForum is egter bekommerd dat hierdie twee verskillende registrasiemetodes verwarring in die stelsel kan veroorsaak. Ouers moet dus seker maak dat hulle by tot drie skole van hul keuse aansoeke indien,” voeg Bloem by.

Ouers kan by die volgende skakel verneem of die skole van hul keuse deel van die 350 skole is wat op die aanlynstelsel gelys is: www.wcedonline.westerncape.gov.za/admissions-201920.
Indien ouers persoonlik by die skole van hul keuse wil registreer, moet hulle die volgende dokumentasie saamneem:

  • geboortesertifikaat van kind(ers);
  • immuniseringskaart;
  • oorplasingsbrief (indien die leerder van ’n ander provinsie na die Wes-Kaap verhuis);
  • jongste skoolrapport; en
  • geldige studiepermit, soos deur die departement van binnelandse sake uitgereik (indien die leerder van die buiteland afkomstig is).

Ouers sal teen 12 Junie 2019 oor hul kind(ers) se skoolplasing in kennis gestel word en het dan tot 12 Julie 2019 tyd om die plasing by die WKOD te bevestig.
Ouers wat onseker is oor hoe die aanlynregistrasiestelsel werk of meer inligting oor die registrasieproses verlang kan AfriForum se webtuiste besoek by https://afriforum.co.za/skoleregistrasie-wes-kaap/.

Soortgelyke plasings