|

Wes-Kaapse debatteerders sê hulle sê by Dink of Sink-streeksuitdunne vir hoërskoolleerders

Altesaam het 150 leerders van nege hoërskole in die Wes-Kaap het op 19 Julie aan die streeksuitdunne vir AfriForum se Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie by die Hoërskool DF Malan in Belville deelgeneem. Dit was die derde van ses streeksuitdunne vir dié debatskompetisie vir hoërskoolleerders.

Die doel van die Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie is om debat in Afrikaans op hoërskool- en universiteitsvak te bevorder. Terselfdertyd leer die debatteerders ’n kernvaardigheid wat hulle in die toekoms sal baat wanneer hulle die werksplek betree.

Die skole wat aan die debatskompetisie deelgeneem het, is Hoërskool DF Malan, Hoërskool Stellenbosch, Hoërskool Durbanville, Hoërskool Parow, Bloemhof Meisieskool, Paul Roos Gimnasium, Hoërskool Belville, Hoërskool Paarl Vallei en Hoërskool Stellenberg. Elkeen van die spanne het drie debatte gevoer oor verskeie onderwerpe wat aktuele kwessies in hul omgewing en die land betref.

“Elkeen van die leerders het hul staal gewys met vuurwarm debatte. Dit is ongelooflik om te sien hoe hierdie hoërskoolleerders vinnig op hulle voete dink en baie goed geformuleerde argumente in ’n gestruktureerde toespraak lewer,” sê Nicolene Müller, AfriForum se projekkoördineerder vir Onderwys.

Hoërskool Durbanville se Saskia Cloete, Cayla Forie en Lucah Vorster is as die junior kategorie se wenners aangekondig, terwyl Hoërskool Stellenbosch se Julia Barry, Adele Holtshausen en Daniël Schoonraad die naaswenners is.  In die senior kategorie het Paul Roos Gimnasium se Christaan van der Merwe, Steffan Thielen en Altus du Plessis as wenners geseëvier en Hoërskool Durbanville se Lynette Kock, Islah Vorster en Klara Brand is as naaswenners gekroon.

Hoërskool Durbanville se junior span en Paul Roos Gimnasium se senior span dring deur na die nasionale finaal wat op 5 Oktober in Pretoria sal plaasvind.

“Die hoë gehalte van die debatte weerspieël die toewyding wat die hoërskoolleerders toon in hul voorbereiding. Ons sien baie uit vir ’n naelbyteindstryd in Oktober wat gaan bepaal wie die beste onvoorbereide debatteerders in Suid-Afrika is,” sluit Müller af.

Soortgelyke plasings