Wes-Rand-buurtwagte ontvang opleiding


AfriForum het Projek Nehemia – ’n strategie teen geweldsmisdaad, wat in die Wes-Rand van stapel gestuur is – die afgelope naweek met lede-opleiding opgeskerp.

Die Wes-Rand-buurtwagte en die Projek Nehemia-bevelgroep het verskeie veiligheidsmodules voltooi om gemeenskapslede by te staan en weerbaar te maak. Op dié manier  kan misdaad aan die Wes-Rand bekamp word. Die modules het bevel-en-beheer, gebiedsbeskerming, regsaspekte, huis-en-haardbeskerming en die bedryf van inligting ingesluit.

“Die naweek se opleiding is een van die belangrikste stappe om ’n veiliger gemeenskap te verseker. Die modules is spesifiek daarop gemik om die gemeenskap proaktief te mobiliseer om misdaad te voorkom, eerder as om ná situasies te reageer,” sê Dewet Ungerer, assistentkoördineerder vir die Wes-Rand.

Volgens Ungerer sal opleiding vir gemeenskappe deurlopend beskikbaar wees. Die afgelope naweek se opleiding was slegs die begin om gemeenskappe te help sodat misdaad nie die alledaagse lewe oorneem nie.

“Ons moedig gemeenskappe aan om by veiligheidsinstansies betrokke te raak en hul eie veiligheid te prioritiseer. Opleiding in verskillende vakgebiede kan gemeenskappe beter in staat stel om binne die raamwerk van die wet op te tree en hul gemeenskappe weerbaar te maak,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid vir die noordstreek.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke: SMS “Buurtwag” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings