|

WET EN ORDE HERSTEL IN BAROLONG BOO SELEKA-DORP MET AFRIFORUM-STEUN

Kgosatsana (Prinses) Gabo Moroka, tradisionele leier van die Nogas Post-dorp van Thaba ’Nchu naby Bloemfontein het gister met AfriForum se steun ’n hofbevel bekom om verdere optrede deur Mnr. Tsietsi Motsididi – wat probeer om haar magte as hoofvrou in te palm – te stop. Dié dringende aansoek het gevolg nadat Motsididi onwettig erwe in dié dorp aan mense toegeken het wat geen reg het om daar te bly nie.

Die hof verbied Motsididi om:

  • homself as tradisionele leier van die dorp voor te hou;
  • take uit te voer wat binne die magte van die tradisionele leier is;
  • die magte van die tradisionele leier in te palm;
  • die tradisionele leier of haar familie met gevaar te dreig;
  • erwe in die nedersetting toe te ken;
  • met die administrasie van die nedersetting in te meng;
  • onrus en onmin onder inwoners te stook; en
  • mense teen die inwoners se landbouprojek op te stook.

“Dit wil voorkom of daar ’n groeiende kultuur van doelbewuste wetsongehoorsaamheid is. Dit is tragies dat ons die howe deurlopend om hulp moet nader. Ons saak is steeds sub judice en tog word mense onwettig deur ongemagtigde partye aangestel. Só word parallelle strukture in ons gemeenskappe geskep. Tradisionele leierskap – ’n gerespekteerde instelling wat veronderstel is om die rots van sekuriteit en veiligheid te wees – is onder beleg. Dit is nog erger as jy ’n vrou is: Jy moet nóg harder baklei. Ek veroordeel die onstabiliteit wat in ons gemeenskappe veroorsaak word. Ons gemeenskappe het oplossings nodig, nie verdere probleme nie. Ons moet bou, nie afbreek nie. My dankbaarheid aan AfriForum. Mens sou andersins ten prooi geval het,” sê kgosatsana Gabo Moroka, woordvoerder van die koninklike familie.

“Ons kan nie toelaat dat wet en orde en belangrike gemeenskapsinstellings soos tradisionele leierskap deur individue vir eie gewin en ten koste van gemeenskappe op voetsoolvlak ondermyn word nie. Die gemeenskap van Nogas Post sal in die huidige plantseisoen voortbou op hul suksesvolle landbouprojek van die vorige seisoen. Ons kan nie toelaat dat rolspelers afgeskrik word deur die optrede van individue met politieke bande nie,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele Samewerking by AfriForum.

Soortgelyke plasings