| | |

Wetstoepassers behandel wetsgehoorsame mense soos misdadigers: AfriForum ondersoek magsmisbruik in Dwarskersbos

AfriForum se privaatvervolgingseenheid onder leiding van adv. Gerrie Nel ondersoek die onlangse voorval van onbillike en arbitrêre optrede van verkeersbeamptes in Dwarskersbos. Die eenheid staan Ludwig Gericke by wat op 9 Mei 2020 voor sy vrou en jong kinders deur twee verkeersbeamptes in Dwarskersbos gearresteer en hardhandig behandel is omdat hy na bewering die inperkingsregulasies oortree het.

Gericke is voor sy vrou en driejarige dogtertjie gearresteer terwyl sy 10 maande oue baba nog in ’n drasak aan hom vas gegord was. Die gesin het tussen 06:00 en 09:00 gaan stap tydens vlak 4 van die inperking. Owerhede in die gebied het die vergunning gemaak dat inwoners van Dwarskersbos mag stap op dié deel van die strand waar Gericke gearresteer is.

Gericke se vrou, Mari, en hul dogtertjie het ’n paar noodsaaklikhede by ’n plaaslike winkel gaan koop en die verkeersbeamptes het in dié tyd probeer om hom te arresteer. Volgens Gericke het ’n verkeersbeampte op hom afgestorm en beweer hy het die inperkingsregulasies oortree. Gericke het vir hom gesê hy wag dat sy vrou van die winkel af terugkom en dat die gesin daarna dadelik huis toe sou gaan. Die beampte het Gericke hardhandig behandel en na sy (die beampte se) kar probeer dwing. Intussen het Gericke se vrou en dogtertjie uit die winkel gekom en gesien wat gebeur. Mari kon daarin slaag om hul baba by hom te neem, waarna Gericke gearresteer en na die Laaiplek-polisiestasie geneem is.

Volgens Gericke het die verkeersbeamptes geweier om sy boeie – wat uitermatig styf was – losser te maak en hom meegedeel dat hulle ’n voorbeeld van hom gaan maak. Gericke moes ook hoor dat hy en “these people” dink hulle is bo die reg verhewe.

“Ons sien al hoe meer gevalle waar wetstoepassers kamtige oortredings van die regulasies misbruik as ’n verskoning om gewone, wetsgehoorsame mense in misdadigers te verander. Die fokus is nie uitsluitlik op die vraag of die beamptes ooreenkomstig met die wet opgetree het nie, maar ook op die wyse waarop hulle lede van die publiek – wat soos almal vasgevang is in die abnormale omstandighede van die inperking – in die uitvoering van hulle pligte behandel. Om iemand soos ’n misdadiger te behandel bloot omdat hy op die strand gestap het (waar hy geglo het hy mag stap), is irrasioneel en ’n skending van Gericke se regte,” sê Natasha Venter, bestuurder van veldtogte by AfriForum.

Die privaatvervolgingseenheid ondersoek tans ander soortgelyke gevalle van magsvergrype deur vredesbeamptes en wetstoepassers in die land. Een só voorval het in Ballito plaasgevind toe vredesbeamptes van die KwaDukuza-munisipaliteit probeer het om onder andere ’n vierjarige kind te arresteer.

Soortgelyke plasings