Wie was Sarel Cilliers?


Sarel Cilliers is op 7 September 1801 op die plaas Schoongezicht in die distrik Klein-Drakenstein gebore. Destyds was name op baie verskillende maniere gespel deur amptenare en familie. Daarom sal daar ook soms na hom as Charl en na sy van as Cellier, Cillie of Cilje verwys word.

In 1836 het hy, sy vrou en ses van hul kinders by die Groot Trek aangesluit. Hy was by feitlik elke sleutelgebeurtenis van die Groot Trek teenwoordig en het dapper sy kant by veldslae gebring. Omdat hy geen militêre strateeg was nie, is hy egter nie in 1838 vir die posisie van hoofkommandant oorweeg nie.

Geloof het sy lewe lank ’n sentrale rol in sy lewe gespeel. Hy het graag dienste gehou en voor veldslae het hy deurgaans die Here se hulp ingeroep. Ná afloop van veldslae, het hy ook altyd ’n dankdiens gehou.

Diep onder die indruk van sy preke uit die Ou Testament, het Andries Pretorius hom in Desember 1838 op die vooraand van die groot slag teen die Zoeloe-leër gevra om ’n gelofte namens die kommando af te lê. Cilliers was huiwerig – hy was van mening dat mense dalk mettertyd die nakoming van so ’n gelofte sou verwaarloos en dat dit dan sou beteken dat die Here hulle sou straf. Pretorius het hom egter oorgehaal en dus het hy die Gelofte ingestel en van 9 Desember 1838 af daagliks herhaal. Soos altyd het hy ook dadelik ná afloop van die Slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838 ’n dankdiens op die slagveld vir die kommando gehou – die eerste Geloftefees.

Hy het sy lewe lank die Gelofte getrou herdenk, al het ander, insluitend Pretorius, dit later verontagsaam. Hy was ook betrokke by die oprigting van die Geloftekerk in Pietermaritzburg. Ná die trek het hy hom eers in Natal gevestig en in 1847 na die gebied Transoranje verhuis, waar hy die plaas Doornkloof naby die huidige Lindley gekoop het. Hier het hy die res van sy lewe met beeste geboer. Hy was sy lewe lank ook by kerklike sake betrokke. Kort voor sy dood op 4 Oktober 1871 het hy sy weergawe van die Gelofte laat aanteken.

Hy is in die familiebegraafplaas op Doornkloof begrawe. Sarel Cilliers word onthou as iemand met baie sterk, vaste beginsels wat só ernstig oor sy geloof was dat hy soms selfs as onsimpatiek beskou is. Tog was hy altyd bereid om hulp te verleen en mense in nood by te staan. Weens sy rol as geestelike leier van die kommando en die aflegging van die Gelofte in 1838, asook die titel van ’n biografie oor hom deur G.B.A. Gerdener, het hy die bynaam “die vader van die Gelofte” gekry.

Soortgelyke plasings