Wilgehof-buurtwag en Parkweg-polisiestasie se misdaadvoorkomingseenheid voer suksesvolle operasie uit
AfriForum se Wilgehof-buurtwag het op 4 Julie ’n boodskap op hul noodgroep ontvang oor ’n onwettige struktuur met vier inwoners in die Wilgehof-area. Reaksielede van dié buurtwag, VR-Sekuriteit, die AfriForum 911-reaksie-eenheid (beman deur VR-Sekuriteit), Fidelity ADT en die Sektor 3-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het dadelik hulp verleen.
Op 5 Julie het die Wilgehof-buurtwag en die Parkweg-polisiestasie se misdaadvoorkomingseenheid ’n gesamentlike operasie beplan wat in samewerking met die buurtwag se reaksielede en Fidelity ADT uitgevoer is.
Die area is strategies benader sodat die onwettige inwoners nie op die vlug kon slaan nie. Vier verdagtes is vasgetrek en wapens, dwelmpype, asook vermoedelik gesteelde goedere is op die toneel gevind.
Dié vier verdagtes is deur die SAPD na die polisiestasie geneem vir uitskakeling van hul betrokkenheid by enige misdaad. Daar is bevind dat twee van die verdagtes wel by misdaadbedrywighede betrokke was en ’n lasbrief vir een van die verdagtes se arrestasie het ook aan die lig gekom. Dié verdagte sou na verwagting op 6 Julie in die hof verskyn. Die Parkweg-polisiestasie se misdaadvoorkomingseenheid sal verdere ondersoeke hanteer.
“Dit is van uiterste belang om so vinnig as moontlik op te tree wanneer onwettige bouwerk en strukture opgemerk word sodat die moontlikheid van latere kwessies vermy kan word. Hierdie tipe strukture kan sowel gesondheidsrisiko’s as lewensgevaarlike situasies tot gevolg hê,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.
“Ons loof die Parkweg-polisiestasie se misdaadvoorkomingseenheid vir die uitstekende sukses van die gesamentlike operasie. Hierdie is weereens ’n bewys dat AfriForum se spesialisopleiding, toerusting, plaaslike en nasionale radionetwerke, asook samewerking met ander rolspelers uiters suksesvol is. Die feit dat gemeenskapslede inligting direk aan die buurtwag kan kommunikeer maak vinnige optrede deur die buurtwag moontlik. Dit skep ook vertroue by die gemeenskap en verskerp waaksaamheid en weerbaarheid om misdaad in die gebied hok te slaan. Goeie samewerking tussen die buurtwag, polisie en plaaslike veiligheidsinstansies stel ons in staat om die gemeenskap in tye van nood te help,” sê Joseph Renaud, AfriForum se veiligheidshoof vir die sentraalstreek.
Sluit vandag nog by jou plaaslike AfriForum-buurtwag aan: Klik hier om aan te sluit.