|

Williston-tak skenk R18 000-geskenkbewys aan Williston Junior Kollege

Die AfriForum-tak in Williston het op 10 Junie ’n geskenkbewys van die Williston-vleiskoöperasie ter waarde van R18 000 aan die Williston Junior Kollege oorhandig. Die geskenkbewys gaan aangewend word vir die opgradering van die skoolgebou en die skool beplan om onder meer verf, sement en nuwe vensters aan te koop.

Die Williston-distrik is een van die gebiede van die Hantam wat die afgelope dekade swaar onder die droogte gebuk gegaan het en die meeste boere moet nou, na die onlangse goeie reën, weer hul kuddes opbou.

Die Williston Junior Kollege is nog altyd afhanklik van die gemeenskap se finansiële ondersteuning. Hierdie skool is 24 jaar gelede deur dr. Koos Louw en sy gesin gestig en bestaan uit 42 leerders in graad 1 tot 7.

“AfriForum se Williston-tak het dit dus goed gedink om met hierdie bydrae die finansiële las van die opgradering te probeer verlig,” sê Marnel Louw, voorsitter van die Williston-tak.

Johanna Theron, skoolhoof van die Williston Junior Kollege, het namens die leerders en ouers van die skool hul dankbaarheid en opregte waardering vir die gebaar betuig.

Maak vandag nog ’n verskil in jou gemeenskap en raak betrokke by jou plaaslike AfriForum-tak: SMS jou naam na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings