Witrivier-buurtwag help om polisiestasieheining op te kikker


AfriForum se Witrivier-buurtwag het onlangs in samewerking met Full Circle Security gehelp om die heining van die plaaslike polisiestasie oor te doen as deel van AfriForum se Maand van Selfstandigheid-veldtog.
Lede van die plaaslike buurtwag en kinders wat in die dorp bly het ook aan die werk gespring om die heining te verf – die oksideerder en verf wat gebruik is, is deur plaaslike ondernemings geborg.

“Ons sien dié projek as ’n manier om van ons kant af die Suid-Afrikaanse Polisiediens van Witrivier te bedank vir die goeie samewerking en diens wat hulle aan die gemeenskap bied,” sê Johan Pelser, voorsitter van die Witrivier-tak se buurtwag.

Pelser en sy span ry gereeld patrollies saam met die SAPD in die area en help só om die gebied te beveilig. Raak vandag nog in jou gemeenskap betrokke: SMS “Buurtwag” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings