Witrivier-buurtwag snel sakeman te hulp ná aanranding; trek verdagte vas

 

Lede van AfriForum se Witrivier-buurtwag het gister die bestuurder van die Lizard-sekuriteitsfirma, Barend Strydom, te hulp gesnel nadat hy op die perseel van die eierverskaffer Heidel Eiers aangerand is, klaarblyklik deur ’n sekuriteitswag van dié firma.
Die verdagte is in samewerking met die plaaswag in dié omgewing vasgetrek, waarna die buurtwag die polisie ontbied het en die verdagte in hegtenis geneem is.
Volgens Johan Pelser, lid van AfriForum se Witrivier-buurtwag, het die voorval tussen 2:00 en 3:00 Dinsdagoggend plaasgevind nadat hy ’n rumoer op die perseel gehoor het. Pelser is naby Heidel Eiers woonagtig.

“Ek het ondersoek ingestel en dit het gelyk soos een van die Lizard-sekuriteitswagte wat so geraas maak, en ek het die firma in kennis gestel. Dit was glo met Strydom se aankoms op die perseel dat hy deur die verdagte oorval en aangerand is,” verduidelik Pelser.

Na afloop van hierdie gebeure is die res van die buurtwag, die plaaswag, asook J&M Sekuriteit gemobiliseer. Pelser het ook mediese bystand aan Strydom gebied, wat later gehospitaliseer is.

“Hy is gelukkig nie ernstig beseer nie en behoort reeds vandag terug by die huis te wees. Die verdagte is ná sy arrestasie vir bloedtoetse geneem en is steeds in aanhouding,” sê Pelser.

Soortgelyke plasings