|

Word burgers se regte tydens staat van inperking geskend?

Suid-Afrika is in die middel van die 21 dae van nasionale inperking wat pres. Cyril Ramaphosa vroeër aangekondig het.

Dat dit ’n moeilike en onsekere tyd vir landsburgers is, is gewis.

Hoewel dit blyk dat die meerderheid van die land se inwoners gehoorsaam is aan die regulasies wat tydens die inperking geld, is daar egter kommer oor voorvalle van magsvergrype deur wetstoepassers en die weermag waar individue aangerand of selfs onregmatig gearresteer en aangehou word.

Honderde Suid-Afrikaners is reeds gearresteer en staar tronkstraf of boetes in die gesig omdat hulle die regulasies geïgnoreer het.

Daar is ook die voorbeeld van die drie COVID-19-pasiënte wat teen hul wil in die TB-hospitaal in Nylstroom in Limpopo aangehou is. Elmarie van Emmenis van Ellisras, sowel as drs. Claire Olivier en Taryn Williams is ná volgehoue druk deur hul onderskeie regspanne vrygelaat.

Waar landsburgers die regulasies willens en wetens verontagsaam stem die breë gemeenskap saam dat die reg sy verloop moet neem. In dié opsig kom die geval van Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie en digitale tegnologie, dadelik op. Sy het die regulasies van die staat van inperking verbreek deur by Mdu Manana, voormalige adjunkminister van hoëronderwys, middagete te gaan eet. Ramaphosa het haar vir twee maande geskors, maar opposisie partye meen sy behoort summier afgedank te word en ook strafregtelik aangekla te word.

In die lig van hierdie en ander gebeure het AfriForum ’n verslag gepubliseer wat aandui watter regte as gevolg van die staat van inperking ingeperk word.

Dié verslag is deur adv. Mark Oppenheimer, ’n grondwetkenner, opgestel en dui daarop dat ’n beduidende aantal van die publiek se burgerregte as gevolg van die staat van inperking ingrypend beperk word. Dit sluit die regte op vryheid van beweging, vryheid van spraak, vryheid en sekuriteit van die persoon, die reg op privaatheid, kinderregte, die reg op onderwys en die reg op menswaardigheid in.

Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, sê AfriForum se uitgangspunt is dat die organisasie ten gunste is van die regulasies wat in plek gestel is om die verspreiding van die koronavirus te beperk. “Ondersteuning van die regulasies hoef egter nie te beteken dat ’n blanko tjek aan die regering gegee word nie. Drukgroepe het steeds ’n belangrike rol om te speel om toe te sien dat die krisis op ’n verantwoordelike wyse hanteer word. AfriForum se taak is nou veral om toe te sien dat die staat van inperking sy gang gaan en ook dat hierdie regte ten volle herstel word wanneer die inperking verby is,” sê Roets.

Oppenheimer verwys in die verslag na van die beperkings wat ingestel is en waaraan die publiek gehoor moet gee. Dit behels onder meer:

  • Munisipaliteite is beveel om alle openbare geriewe te sluit wat nie noodsaaklike dienste lewer nie. Dit sluit swembaddens, strande, biblioteke, gemeenskapsale, ontspanningsentrums, museums, galerye, markte, parke en geleenthede in.  Gemeenskapsbyeenkomste, troues en ander feestelikhede is verbode. Begrafnisse mag voortgaan, maar roubeklaers word beperk tot nabye familie en hoogstens 50 mense. Elke mens word tot hul woonhuis beperk, buiten uitsluitlik vir die doel om noodsaaklike dienste te verrig, noodsaaklike goedere en dienste te bekom, sosiale toelaes en pensioene te kry of om nood-, lewensreddende of chroniese mediese dienste te bekom. Beweging tussen provinsies en metropolitaanse en distriksgebiede word verbied, buiten vir noodsaaklike werkers, die vervoer van vrag en stoflike oorskot, of om begrafnisse by te woon.
  • Alle sakeondernemings en ander entiteite moet alle bedrywighede tydens die inperking staak, buiten enige ondernemings of entiteite wat noodsaaklike goedere of dienste vervaardig of voorsien. Kleinhandelaars en inkopiesentrums moet gesluit wees, buiten waar noodsaaklike goedere verkoop word. Kleinhandelaars wat noodsaaklikhede verkoop, word belet om enige ander goedere te verkoop.
  • Skole en gedeeltelikesorgfasiliteite is tot 15 April 2020 gesluit. Mense in ouetehuise, verswaktesorgfasiliteite en fasiliteite vir mense met gebreke mag nie uitgelaat word of besoekers ontvang nie.
  • Toegang tot die howe en hofgebiede word slegs toegelaat in geval van dringende en noodsaaklike sake. Die balju mag slegs bevele beteken en uitvoer in dringende en noodsaaklike gevalle. Dit sluit in bevele oor COVID-19, beskermingsbevele vir huishoudelike geweld en teistering, en eise wat voorskrywend is. Uitsettingsbevele word vir die duur van die staat van inperking opgeskort. Geen verhoorafwagtende aangehoudenes in korrektiewe sentrums en polisie-aanhoudingselle mag voor enige hof of in enige hofgebied gebring word nie, buiten vir ’n eerste verskyning, ’n borgtogaansoek of ’n saak waarvoor daar spesiale reëlings getref is met die regsbeamptes wat met die saak gemoeid is.
  • Dit is ’n misdaad om opsetlik voor te gee dat iemand met die koronavirus geïnfekteer is. Dit is ’n misdaad om enige mededeling te publiseer met die doel om enige ander persoon te mislei oor COVID-19, oor die COVID-19-infeksiestatus van enige persoon of oor enige maatreëls wat deur die regering afgekondig is om COVID-19 aan te spreek. ’n Oortreder kan beboet word en/of gevangenisstraf van ses maande opgelê word.
  • Die direkteur-generaal van gesondheid beskik oor die mag om internet- en selfoondiensverskaffers te dwing om die ligging en bewegings bekend te maak van enige persoon wat COVID-19 onder lede het of met redelike sekerheid COVID-19 opgedoen het, of enigeen met wie hulle in aanraking was. Dié inligting mag slegs gebruik word deur gemagtigde personeel om die verspreiding van COVID-19 aan te spreek, te voorkom of te beveg. ’n Verslag met die name van die persone wat gemoniteer word, moet by ’n afgetrede regter ingedien word. Die inligting moet ná ses weke vernietig word. Elkeen wat gemoniteer was, moet binne ses weke ná die einde van nasionale ramptoestand hiervan ingelig word.
  • ’n Persoon wat aan COVID-19 ly of vermoedelik daaraan ly, of met ’n draer in kontak was, mag nie toestemming vir ’n mediese ondersoek weier nie. Dit sluit in die neem van ’n liggaamlike monster, opname in ’n gesondheidsfasiliteit of plek van kwarantyn of isolasie, of onderwerping aan verpligte profilakse, behandeling, isolasie of kwarantyn.

Lede van die publiek wie se regte geskend word tydens die staat van inperking kan ’n e-pos stuur na jouregte@afriforum.co.za.

Besoek ook https://afriforum.co.za/korona-covid-19/wat-is-my-regte/ om die volledige verslag te lees.

Soortgelyke plasings