|

Wys jou slag met digkuns in Afrikaans

Deur Natasha Venter

Navorsing oor ’n onderwerp bewys onomwonde dat mens jouself die beste uitdruk in jou moedertaal. Dit is ook die taal waarin jy moeilike konsepte die beste verstaan. Daarom is dit belangrik dat mense voortdurend aangemoedig word om in hul moedertaal te skryf. Daar bestaan in hierdie verband verskeie skryfkompetisies om nuwe talentvolle skrywers te ontdek en ook om mense aan te spoor om in Afrikaans te skryf en hulself in hul moedertaal uit te leef.

Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA)

Die GHA bied jaarliks ’n digkompetisie aan om, volgens die organiseerders, Afrikaans behoue te laat bly en om mense aan te moedig om die taal suiwer te praat en te skryf. Enigeen wat Afrikaans magtig is en die vermoë het om te dig, kan inskryf. Volgens Claudine Boshoff, uitvoerende beampte van die GHA, het dié kompetisie vir volwassenes in 2005 ontstaan met ’n bloemlesing getiteld Stemme uit die Suiderland. Skoliere kan sedert 2013 aan Die Wonder van Afrikaans deelneem.

Die kompetisie het drie afdelings, naamlik ’n oop afdeling en een vir laer- en hoërskole.  In die volwasse been van die kompetisie ontvang die algehele wenner R3 000, die naaswenner R2 000, en elk van die 10 kategoriewenners R1 000. “Daarmee saam ontvang elke wenner en naaswenner ’n sertifikaat met sy/haar gedig op,” sê Boshoff. Die prysuitdeling val saam met ’n glansaand waartydens die nuwe digbundel bekendgestel word. Al die wengedigte, sowel as ander noemenswaardige inskrywings, word in dié bundel gepubliseer.

Die skolekompetisie word in samewerking met Aksie Vrouekrag aangebied, en bestaan uit opstelle en gedigte. Aksie Vrouekrag betaal die prysgelde vir die opstelwenners en GHA die prysgeld vir die wenners in die gedigte-afdeling. Skoliere het ook ’n glansaand waartydens sertifikate uitgedeel en die digbundel, Die Wonder van Afrikaans, bekendgestel word. Skoliere kan ook vir die volwasse afdeling inskryf. “Dit het al gebeur dat ’n skolier ’n kategorie in die volwasse afdeling gewen het.”

Boshoff meen dat kompetisies wat Afrikaans bevorder kardinaal is tot die stryd teen die taal se uitsterwing. “Dit bevorder ook mense se skryfvermoëns om aan kompetisies soos ons s’n deel te neem.”

Die sluitingsdatum vir die skolekompetisie is 31 Mei 2018, en vir die volwassenes 30 Junie 2018. Skryf in deur die volgende webtuiste te besoek: www.afrikaans.org.za/kompetisies/.

Poort-kompetisie

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bied sedert die sewentigerjare jaarliks hierdie kompetisie vir jong skrywers aan. Dié kompetisie het ten doel om skeppende skryftalent in Afrikaans by hoërskoolleerders aan te moedig en hierdie talent aan ‘n groter gehoor bloot te stel. Dít word bereik deur middel van die Poort-publikasie wat jaarliks verskyn met gekeurde werk in die genres prosa en poësie.

Leerders in graad 10, 11 en 12 in Suid-Afrikaanse en Namibiese skole kan aan hierdie kompetisie deelneem. Uit elke skool word daar tot 25 kreatiewe bydraes gekeur en na die Akademie gestuur vir evaluering. Sedert 2012 kies die keurders vyf toppresteerders uit elke kategorie om die Universiteit van die Vrystaat se jaarlikse Skrywerslypskool by te woon.

Volgens dr. Dionē Prinsloo, hoof- uitvoerende beampte van die Akademie, is hierdie wedstryd belangrik omdat dit op leerders in die laaste drie jaar van hul skoolloopbane gemik is. Dít gee leerders wat reeds deur hul opstelle en skryfwerk ‘n belangstelling in skryf ontwikkel het ‘n geleentheid om blootgestel te word aan ‘n wyer leserbasis as hul eie skool. “Ons kompetisie lewer ‘n positiewe bydrae tot Afrikaans, omdat nuwe stemme hierdeur gehoor word. Die leerders se skeppende vermoëns word uitgedaag en hulle word die geleentheid gebied dat hul werk in harde kopie verskyn.”

Die wenners in die prosa- en poësiegenre ontvang elk ‘n kontantprys van R5 000, geborg deur Nedbank en die Trust Afrikaanse Onderwys. Die Poort-wenners se prysoorhandiging vind jaarliks tydens die Akademie se bekroningsgeleenthede in Pretoria of Stellenbosch plaas.

Poort het in die verlede ook inskrywings van blinde leerders ontvang en in dié gevalle is borge gevind om die Poort in braille uit te gee.

Die sluitingsdatum vir hierdie kompetisie is 20 Februarie 2018. Stuur ‘n e-pos na akademie@akademie.co.za of nellie@akademie.co.za of besoek die Akademie se webtuiste by www.akademie.co.za vir volledige inligting.

Grondwoorde

Hierdie digkompetisie vir hoërskoolleerders word sedert 2016 in KwaZulu-Natal aangebied. In 2017 is 137 inskrywings van 25 skole ontvang, meestal vanuit Engelssprekende en Indiërskole. In 2018 bied die organiseerders ook ’n groepwerk-afdeling ten einde deelname te verhoog.

Volgens Wouter Gildenhuys, die organiseerder van Grondwoorde, word hierdie kompetisie aangebied om Afrikaans en ’n liefde vir poësie te bevorder. “Dit dien ook as ’n ‘brug’ tussen leerders wie se huistaal nie noodwendig Afrikaans is nie, om ’n liefde vir hierdie taal te kweek. Dit is uiters belangrik dat ons meer inklusief moet dink in terme van die voortbestaan van Afrikaans. Die taal is ’n lewende organisme wat groei en muteer.”

Ooreenkomstig hiermee het die voorskrifte van Grondwoorde 2017 ’n kategorie ingesluit wat gefokus het op ’n aspek van die Zoeloe-kultuurerfenis.

Die wenner ontvang ’n kontantprys van R10 000 en die vier naaswenners elk R2 500. “In 2017 was die standaard egter van so aard dat die beoordelaars ses naaswenners aangewys het.” Elke leerling wat inskryf, ontvang ook kontanterkenning van R500 en al die gedigte wat ingeskryf word, word in ’n digbundel gepubliseer.

In die groep-afdeling word kontantpryse van R3 000, R2 000 en R1 000 onderskeidelik vir die eerste-, tweede- en derdeplek toegeken.

Die sluitingsdatum vir Grondwoorde is 1 September 2018. Stuur ’n e-pos na gildenhuys.wouter@gmail.com vir die kompetisiereëls en -inligting.

Woeker vanjaar met jou skryftalent en skryf in vir een, of selfs al drie, van hierdie kompetisies!

Soortgelyke plasings