|

Zeerust-tak sit slaggatprojek voort, onderhou monument

Die AfriForum-tak in Zeerust het op 21 Mei hul slaggatprojek voortgesit en altesaam 250 sakke teer van 25 kg elk gebruik om die slaggate in hierdie dorp te vul.

“Die Zeerust-tak het gewys hulle is nie bang om te werk nie. Hulle het saamgestaan en ongeveer ses ton teer gebruik om die slaggate op te vul,” sê Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

Dié tak fokus nie net op slaggate nie, maar onderhou ook die Burger-monument in Zeerust en sal nie terugstaan om enige verdere verbeterings in Zeerust aan te bring nie. Dit is tyd dat die gemeenskap vir die Ramotshere Moiloa Plaaslike Munisipaliteit wys dat hulle nie sal terugstaan en toekyk hoe hulle dorp verval nie.

“AfriForum se Zeerust-tak sal aanhoudend druk plaas op die Ramotshere-munisipaliteit om dienste te lewer. Ons kan sien aan die geesdrif van die Zeerust-tak dat hulle nie sal opgee om hul gemeenskap te help en die dorp te verbeter nie,” sluit Viljoen af.

AfriForum sal verder aanhoudende druk plaas op die Ramotshere-munisipaliteit om te voorsien dat hulle die belastingbetalers se geld reg bestee.

Die gemeenskap word genader om te help met enige donasies om volhoubare projekte in Zeerust voort te sit.

Inwoners kan gebruik maak van die volgende bankbesonderhede:

AfriForum NPC

Eerste Nasionale Bank (FNB)

Rekeningnommer: 623 498 983 98

Takkode: 261 550

Verwysing: ZEERUST

Word vandag nog deel van AfriForum se Zeerust-tak: SMS “Zeerust” na 45344 (R1) of skakel vir Pierre van der Walt by 082 569 8564.

Soortgelyke plasings