|

AfriForum gaan voort met regstappe sodra president BELA onderteken

AfriForum beskou die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (BELA) as ’n poging tot kulturele etniese suiwering deur die ANC-regering, aangesien dit die vernietiging van ’n taal- en kultuurgemeenskap se skole sal moontlik maak om sodoende die groep se kulturele voorbestaan in gedrang te bring. Om dié rede is AfriForum se regspan gereed om stappe teen die implementering daarvan te doen sodra die wetsontwerp deur president Cyril Ramaphosa onderteken word. AfriForum het vandag dié aangekondig gemaak tydens ’n gesamentlike mediakonferensie deur AfriForum, Solidariteit, Solidariteit Helpende Hand, die Skoleondersteuningsentrum (SOS) en die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK).

AfriForum het reeds sedert die eerste konsepwet in 2017 verskyn het, beswaar gemaak teen die artikels daarin wat die finale besluitnemingsmagte oor skole se toelatings- en taalbeleid van beheerliggame ontneem. Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, het duisende lede van AfriForum en die breër publiek deur die jare hulle steun aan dié organisasie se standpuntinname teen die wetsontwerp toegesê. Daar is deurlopend aan alle openbare raadplegingsgeleenthede op provinsiale en nasionale vlak deelgeneem. “Hoe meer inligting oor die inhoud daarvan bekend geraak het, hoe meer het die teenstand daarteen gegroei. Dit is dus uiters teleurstellend dat die president beoog om die wetsontwerp te onderteken. Dit is ’n aggressiewe minagting van die openbare mening en hiermee omskep hy die regering van nasionale eenheid in ’n regering van nasionale verdeeldheid,” meen Bailey.

Landswyd is Afrikaanse skole onder druk van provinsiale amptenare om Engelse onderrig aan te bied. Solank provinsiale onderwyshoofde die finale besluite oor skole se taal- en toelatingsbeleid kan neem, sal die deur oop wees om enkelmedium- Afrikaanse skole na dubbel- of parallelmediumskole te verander. Die onafwendbare uiteinde daarvan is dat die skole sal verengels.

Bailey noem dat ten spyte van groot gewag wat die Departement van Basiese Onderrig onlangs oor die waarde van moedertaalonderrig gemaak het, dit ’n reg is wat toenemend van Afrikaanssprekende leerders ontneem word. “Afrikaans is op soortgelyke wyse reeds in die land se openbare universiteite afgetakel. Die krimpende aantal skole wat nog Afrikaans as onderrigtaal gebruik, is nou aan die beurt. AfriForum berei daarom vir beide nasionale en internasionale regsaksie voor om dit teen te staan,” sê sy.

Soortgelyke plasings