|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

Brande het die afgelope weke verwoesting in die land gesaai en AfriForum se buurtwaglede het op talle plekke gehelp om brande te blus.

AfriForum Brandweer, wat onlangs in Bloemfontein op die been gebring is, het blitsig saam met die plaaslike AfriForum-buurtwagte gereageer toe ’n brand by die Nasionale Distrikshospitaal uitgebreek het. AfriForum Brandweer en die AfriForum-buurtwagte het gehelp om pasiënte, personeel en besoekers uit die hospitaal te ontruim.

In Pretoria het die Wes-Moot-brandspan van AfriForum drie brande, wat na bewering met opset gestig is, binne enkele uur geblus. Die AfriForum-buurtwagte in Witrivier, Machadodorp en Mbombela het verwoestende brande bestry wat meer as 1 000 ha se plantasies en makadamiaboorde vernietig het. AfriForum se Standerton-buurtwag het gehelp om ’n brand te blus wat by die vullisterrein in Standerton begin en vinnig versprei het. Lede van AfriForum se Chrissiesmeer-buurtwag het vinnig met hul mobiele brandbestrydingseenheid gereageer om ’n wegholveldbrand te bestry.

Terwyl die AfriForum-vrywilligers gereed is om brande te blus, het die AfriForum-takke in Delmas, Ermelo en Piet Retief dié dorpe se brandkrane nagegaan om seker te maak dat hierdie krane duidelik sigbaar is.

Pionier-buurtwag in Pretoria het in samewerking met Extra Secure-veiligheidsdienste ’n verdagte, wat vermoedelik met ’n aantal inbrake verbind word, in hegtenis geneem.

AfriForum het ’n brief aan die Lekwa-Teemane Plaaslike Munisipaliteit gerig oor die onwettige rioolstorting in die Vaalrivier. Die organisasie het klagtes ontvang oor rou riool wat uit verskeie verstopte mangate naby Bloemhof en in Christiana direk in die Vaalrivier invloei.

Die sukkelende Mangaung-metro gaan al jare lank gebuk onder swak dienslewering wat tot gevolg gehad het dat AfriForum in 2020 reeds begin het om ’n vullisverwyderingsdiens aan inwoners en ondernemings te lewer. Die organisasie help diegene wat van hierdie diens gebruik maak ook nou met vrystellingsaansoeke sodat hulle nie die metro vir ’n diens betaal wat deur ’n privaat instansie gelewer word nie.

Die AfriForum-tak in Centurion het vir Julie reeds 926 kg teer gebruik om agt slaggate in Valhalla en The Reeds se strate te herstel as deel van AfriForum se nasionale slaggatprojek. 

AfriForum het op ’n vergadering met rolspelers van die polisie en die Departement van Justisie dit duidelik gestel dat oplossings dringend gevind moet word om misdadigers agter tralies te hou. ’n Dokument met meer as 100 hofsake wat in die Groblersdal-landdroshof voorgekom het en waaroor twyfel of kritiek oor die hantering daarvan bestaan, is ook tydens die vergadering aan verteenwoordigers oorhandig. AfriForum eis nou deeglike terugvoer oor die hantering van elk van dié sake.

AfriForum het sy regspan opdrag gegee om klagte van korrupsie, bedrog en geldwassery teen die EFF-leiers, Julius Malema en Floyd Shivambu te formuleer vir hul betrokkenheid by die VBS-skandaal. AfriForum het ook vir adv. Gerrie Nel en die privaatvervolgingseenheid versoek om die saak te moniteer en druk op die vervolgingsproses te plaas indien dit sou blyk dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) voete sleep.

Die privaatvervolgingseenheid het namens Nthabiseng Sebothoma ’n aanrandingsaak teen Irvin Thabo Ngobeni aanhangig gemaak. Sebothoma het die privaatvervolgingseenheid genader nadat die polisie nie die saak behoorlik ondersoek het nie en die NVG later aangedui het dat hulle nie die beskuldigde gaan vervolg nie.

AfriForum en die Barolong Boo Seleka-koninkryk het met ’n gesamentlike erfenisprojek ’n nuwe grafsteen opgerig vir Kgosi Tshipinare Moroka, die laaste leier van Thaba’Nchu as ’n onafhanklike staat. Moroka was ’n inspirerende leier wat in 1883 ’n formele vriendskapsverdrag en bondgenootskap met die Republiek van die Oranje-Vrystaat gesluit het.

AfriForum het ook sy regspan opdrag gegee om ’n hersieningsaansoek teen die Departement van Water en Sanitasie (DWS) te bring ná die departement geweier het om waterregte vir besproeiing van ’n swart boer na ’n wit boer oor te dra.

’n Splinternuwe musiekblyspel is in Oktober by AfriForum Teater op die planke. Die Afrikaner maak só handel oor die Van der Merwe-gesin wat as’t ware vasgevang is in 1994. Kaartjies kan op AfriForum Teater se webblad gekoop word.

Die wenners van vanjaar se Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie is ook vandeesweek aangewys en dié jong entrepreneurs het met groot pryse weggestap.

Soortgelyke plasings