Hoogste Hof van Appèl-uitspraak in MRK-saak ’n reuseoorwinning vir geregtigheid – AfriForum

Die Hoogste Hof van Appèl in Bloemfontein se uitspraak vandag dat die Menseregtekommissie (MRK) se bevindings nie op sigself afdwingbaar is nie en slegs deur ’n hof afgedwing kan word, is volgens AfriForum, wat in dié saak as vriend van die hof opgetree het, ’n reuseoorwinning vir geregtigheid. AfriForum benadruk dat dié uitspraak ’n belangrike presedent vir huidige en toekomstige bevindings van die MRK skep.

Die Hoogste Hof van Appèl se uitspraak is gelewer in ’n saak tussen die MRK en die landboumaatskappy AgroData, waarin die MRK aangevoer het dat hul bevindings en voorskrifte in ’n geskil rakende inwoners van die plaas De Doorn Hoek se toegang tot boorgatwater, bindend is.

AfriForum is verheug oor die uitspraak wat ook die beginsel bevestig dat MRK-aanbevelings nie altyd voorrang hoef te geniet bo ander geskilbeslegtings nie.

AfriForum is verheug oor die uitspraak wat ook die beginsel bevestig dat MRK-aanbevelings nie altyd voorrang hoef te geniet bo ander geskilbeslegtings nie.

Volgens Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, is die grondwetlike orde gehandhaaf deur hierdie uitspraak. “Die Grondwet maak dit duidelik dat elke Hoofstuk 9-instelling, soos die MRK, die grondwetlike demokrasie op ’n unieke wyse moet versterk en nie die doel of bevoegdhede het om hofbevele te vervang of vooruit te loop nie.”

In die eenparige uitspraak het die Hoogste Hof van Appèl tot die gevolgtrekking gekom dat hoewel hoofstuk 9-instellings gestig is om die grondwetlike demokrasie te versterk, dit nie noodwendig impliseer dat hulle almal oor bindende remediërende magte beskik nie. Die instellings vervul, volgens die uitspraak, afsonderlike mandate en het doeltreffende maniere waardeur hulle hul doel, soos deur die Grondwet bepaal, kan bereik. Daar is gevolglik bevind dat die MRK geen magte het om bindende voorskrifte te maak nie.

Tydens die hofverrigtinge op 12 Maart vanjaar het AfriForum as vriend van die hof aangevoer dat die MRK se bevindings nie as bindend beskou moet word nie. Dié argument berus op artikel 184(2)(b) van die Grondwet waarvolgens die MRK stappe mag doen “ten einde gepaste herstel te verseker waar menseregte geskend is”. Die Grondwet laat egter nie die MRK toe om bindende direktiewe uit te vaardig nie.

Agtergrondinligting oor die MRK-AgroData-saak

Die MRK het in Mei 2018 ’n klag ontvang van inwoners van die plaas De Doorn Hoek, in Mpumalanga, nadat die eienaars van die grond, AgroData, na bewering in 2016 beperkings op die inwoners se toegang tot boorgatwater geplaas het. Die MRK het later egter aangevoer dat hul bevindings en voorskrifte in die saak nagevolg moet word. In ’n poging om die voorskrifte te laat afdwing, het die kommissie hom tot die Mpumalanga Hooggeregshof in Mbombela gewend. Dié hof het egter in Maart 2022 die MRK se aansoek van die hand gewys en beslis dat, hoewel die MRK aanbevelings kan maak, hulle nie kon bewys dat alle direktiewe wat deur die MRK uitgevaardig word, bindend is nie. In reaksie hierop het die MRK die Appèlhof genader om dié beslissing te appelleer.

Soortgelyke plasings