|

Life Esidimeni-tragedie: NVG moet nou herbesin oor besluit om nie te vervolg nie

AfriForum se privaatvervolgingseenheid en Solidariteit Helpende Hand gaan vandag se uitspraak van die geregtelike doodsondersoek na die dood van 144 psigiatriese pasiënte in die Life Esidimeni-tragedie van 2016, bestudeer voordat volgende stappe oorweeg sal word. Die organisasies is egter bemoedig dat die saak terugverwys sal word na die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) om te herbesin oor vervolging in dié saak. AfriForum en Solidariteit Helpende Hand benadruk dat voorlopige inligting dui op ’n gunstige besluit om die saak te vervolg.  

Regter Mmonoa Teffo het vandag uitspraak gelewer in die Gautengse Hooggeregshof in Pretoria. Sy het bevind dat die dood van minstens nege van die slagoffers in die Life Esidimeni-tragedie veroorsaak is deur die nalatige optrede van die toenmalige Gautengse LUR vir Gesondheid, Qedani Mahlangu, en die voormalige direkteur van Geestesgesondheid by die Gautengse Departement van Gesondheid, dr. Makgabo Manamela.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het Sandra de Villiers verteenwoordig in opdrag van Solidariteit Helpende Hand, wat gesinne tydens die bemiddelingsverhoor verteenwoordig het. De Villiers se broer, Jaco Stols, het in 2016 het tydens die Life Esidimeni-tragedie gesterf.

Stols is kort voor sy dood uit Life Esidimeni na ’n ander fasiliteit verskuif waar hy glo van honger gesterf het. Regeringsamptenare het die skuif sonder die toestemming van Stols se naaste familie gedoen. De Villiers is aanvanklik verbied om haar broer by die nuwe fasiliteit te besoek. Hy is op De Villiers se aandrang gehospitaliseer – teen dié tyd het Stols skaars 39 kg geweeg. Dit was egter te laat om sy lewe te red.

“Die uitspraak is ’n klein stap in die rigting van die geregtigheid waarna ons so lank gesoek het. Ons is dankbaar dat diegene in belangrike posisies wat direk vir dié tragedie verantwoordelik was, verantwoordelik gehou word. Die slagoffers wat hulself nie kon help nie, is dood van dehidrasie, verhongering en verwaarlosing,” sê René Roux, bestuurshoof van Media by Solidariteit Helpende Hand.

Soortgelyke plasings