|

Splinternuwe, spog kampus vir Akademia in 2028

Akademia se splinternuwe kampus aan die ooste van Pretoria gaan in Januarie 2028 sy deure open. Dié kampusprojek is die grootste ontwikkelingsprojek in die geskiedenis van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe.

“Die nuwe kampus is die verwesenliking van ’n groot droom. Dit vereis die krag van ’n belynde gemeenskap wat deur eensgesindheid en samewerking die oënskynlik onmoontlike kan verwesenlik,” sê Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia. “In die lig hiervan is die Toekomsbouer-veldtog ’n oproep aan die gemeenskap om deel te word van ’n ongelooflike geleentheid – iets soos wat die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe nie in ’n geruime tyd beleef het nie. Dit bied ’n geleentheid waar hoop en ’n nalatenskap fisies opgerig gaan word.”

Henk Schalekamp (besturende direkteur van Kanton) en Marthinus Visser (besturende direkteur van Akademia)

Akademia het in 2012 met 40 studente begin, maar het jaar na jaar gegroei tot vandag se nagenoeg 3 200 studente. Daar is tans 20 uitgesoekte kursusse wat aangebied word, maar soos die studente oor die jare gegroei het, sal die aantal kursusse by Akademia ook nog groei.

Die nuwe kampus sowat agt kilometer vanaf Solomon Mahlangu-rylaan op die Boschkop-pad sal in twee fases gebou word met die eerste fase wat in Januarie 2028 voltooi sal wees. Daar is R1,8 miljard vir hierdie fase begroot met die uiteindelike begroting vir albei fases wat R3 miljard sal oorskry. Daar sal voorsiening gemaak word vir 5 000 voltydse voorgraadse studente en nagenoeg 1 500 nagraadse studente. Vier mans- en vier dameskoshuise sal 1 500 studente op kampus huisves.

Die eiendomsontwikkelingsmaatskappy Kanton is verantwoordelik vir die nuwe kampus. Dis dieselfde maatskappy wat Sol-Tech en die koshuise vir Sol-Tech op tyd en binne begroting gebou het. Massa grondwerke begin volgende jaar en konstruksie in Januarie 2026. Daar sal uiteindelik omtrent 55 000 m2 onderdakfasiliteite op die kampus wees. Meer as die helfte hiervan sal geboue vir akademiese doeleindes wees. Behalwe laasgenoemde en die koshuise sal daar ook ’n kapel op die terrein wees en wêreldklassportgeriewe, wat onder meer ’n atletiekbaan, swemgeriewe en tennisbane sal insluit.

“Ons het gesien hoeveel geleenthede Sol-Tech se nuwe kampus vir hulle ontsluit het en ons voorsien dat dieselfde vir Akademia moontlik sal wees. Die hoop is ook dat die kampus meer as net ’n akademiese tuiste vir ons studente sal wees waar mense graag sal kom fietsry of stap of selfs net ’n lekker koffie kom drink,” sê Visser.

Visser sê Akademia is reeds uitgenooi om ’n kampus in die Wes-Kaap te vestig en dat dit soos Akademia in Pretoria tydelik in ’n gehuurde gebou gehuisves sal word tot daar op ’n latere stadium ’n volwaardige Wes-Kaapse kampus gebou kan word. ’n Ander opwindende projek vanuit die Solidariteit Beweging wat tans in die beplanningsfase is, is die Gimnasium Pretoria wat binne die volgende paar jaar sy deure sal open en uiteindelik onderrig aan leerders van kleuterskool tot matriek sal aanbied.

Ondersteuning van die gemeenskap word verwelkom. Om meer uit te vind besoek www.toekomsbouer.co.za.

Soortgelyke plasings