Die Gelofte Album

Die Gelofte-album is nou op Dapper Media beskikbaar.

Die Gelofte

Deur Alet Rademeyer

Sy herontdekking van die Gelofte wat in 1838 deur Sarel Cilliers opgestel is en die aha!-oomblik toe hy besef het dít gaan die treffer op ’n album wees wat hy in opdrag van AfriForum moet vervaardig, het Johan Vorster opnuut laat besef hoe belangrik die geskiedenis is én dat dit aan die geslag van môre oorgedra moet word.

Johan is ’n bekende sanger, liedjieskrywer en sakeman van die vervaardigingsmaatskappy Inhoud Huis Musiek wat hy in 2016 saam met sy jarelange vennoot Jacomien de Villiers gestig het.

Die musiekvideo van “Die Gelofte”, wat ook die titel van die album is, het soos ’n veldbrand versprei nadat dit op YouTube vrygestel is. “Die Gelofte” is ’n toonsetting van die Gelofte wat 180 jaar gelede opgestel is en waarin die Voortrekkers hul afhanklikheid van God in ’n tyd van moedeloosheid en onsekerheid oor die toekoms verklaar het. Die lied word deur Adam Tas, Chris Chameleon, Ghapi, Juan Boucher en Christoph Kotze (beter bekend as Appel) gesing. Dit is deur Johan en Appel getoonset, deur Forum Films vervaardig en Dapper Media hanteer die verspreiding.

Volgens Johan is die album een met Afrikaanse volksmusiek en ’n hele klomp nuutskeppings. “Die Gelofte” het tot hom gespreek toe hy in die Oos-Vrystaat op ’n plaas van sy vriend Dirk van Niekerk gekuier het en die Hollandse weergawe onder oë gekry het. “Toe ek die Afrikaanse weergawe lees, het ek geweet ek het die regte lied gekry.”

Johan is ontsettend trots op die nuwe album. “Dit was fantasties om daaraan te werk. Die mense wat uiteindelik besluit het om deel daarvan te word, is nie een daarop ingestel om die lig op hulself te laat skyn nie. Hulle verstaan waaroor dit werklik gaan.”

Volgens Johan het hy die album nie as ’n protesalbum as sulks benader nie, maar eerder vanuit die hoek van historiese gebeurtenisse. Nie alles is altyd feitelik nie. Hy hou ook daarvan om fiksie te skryf. Die groot treffer “De la Rey” was immers fiksie, want eintlik gaan die lied oor die storie van genl. De Wet.

Met “Die Gelofte” is daar nie aan die woorde verander nie. Net een of twee frases word herhaal. “Ek glo daar is krag in die woorde net soos dit is. Toe ek saam met AfriForum aan die projek begin werk het, het ek vir die eerste keer geweet hoekom ons dit moet doen.” Oor kritiek op die album en wanpersepsies wat in sekere mediageledere oor AfriForum verkondig word, is Johan min gepla. “Ek werk lekker saam met AfriForum. Ek het presies die teenoorgestelde indruk van die organisasie gekry as wat baie keer aan die groot klok gehang word. Dis ’n organisasie wat uitstekend funksioneer en baie goeie werk doen.”

Wat die video en album betref, weet hy ’n mens sal nooit almal tevrede kan stel nie. “As jy almal tevrede stel, moet jy wonder hoekom jy so ’n verkleurmannetjie is. ‘Die Gelofte’ hoef nie verdedig te word nie. Daar is ongelooflike salwing op die woorde en die lied beteken vir ’n klomp mense verskriklik baie.

“Die Afrikaner was op daardie tyd op ’n laagtepunt. Hulle het gevoel al hul leiers is weg. Toe het daar ’n paar manne opgestaan soos Sarel Cilliers…”

Johan is ook nie skaam om te sê dat hy ’n Afrikaner is nie. “Met hierdie projek het ek ook weer regtig daaroor begin nadink. As kind het my ouers vir ons langspeelplate soos Ons lewende geskiedenis gespeel. Een wat die grootste impak op my gemaak het, is die verhaal van Bloedrivier.

“Ek besef nou my kinders leer nie van die geskiedenis op skool nie en ons as ouers het ’n enorme verantwoordelikheid om te sorg dat hulle daaroor ingelig word.”

Johan glo ook deur sy seuns omtrent die geskiedenis te vertel, sal hulle eendag ’n beter idee oor hul eie identiteit hê.

Hy glo ook dat hy sy seuns ’n voorsprong gee deur hulle na ’n Afrikaanse skool te stuur om in hul moedertaal onderrig te word. Hy is ook positief oor die toekoms. “Baie mense is negatief, maar as jy na die groter prentjie kyk is daar hoop. Kyk hoe word korrupsie nou  blootgelê. Korrupte mense is besig om te val soos vlieë. Boonop glo ek nie ’n taal kan so gou uitgewis en ons van ons kultuur gestroop word nie. Ek is gelukkig dat ek elke dag kan doen waarvoor ek lief is. Waar anders sal ek in die wêreld Afrikaans kan beoefen soos ek dit nou doen? Ek hou ook baie van Pretoria. Dit het die beste weer ter wêreld en ek kan boonop 300 dae van ’n jaar braai.”

Johan het nog groot planne vir die toekoms. Hy sal graag “Die Gelofte” in ’n blyspel wil omskep soos vroeër met Ons vir jou Suid-Afrika.

Voorts wil hy baie graag kunstenaars wat by Inhoud Huis Musiek vasgeteken is, ontwikkel en help sodat hulle musiek deur die mark breek en goed doen. Hy wil dit egter steeds ’n klein, intieme boetiekplatemaatskappy hou. “Ek wil die diamante in klein dorpies gaan soek en nie ’n worsmasjienmaatskappy wees waar omset al is wat belangrik is nie. Die musiekmark is versadig en ’n mens moet baie versigtig wees om nuwe kunstenaars vals hoop te gee. Sukses het baie met tydsberekening te doen. Die regte liedjie op die regte tyd deur die regte kunstenaar is alles.”

Johan wil ook nog baie musiek skryf. Volgens hom is dit ’n tegniese wetenskap en vaardigheid soos enige ander beroep. “Die storie van wag vir inspirasie is oordrewe. Jy moet eenvoudig gaan sit en gedissiplineerd skryf.”

Dis ook vir hom belangrik om musiek te vervaardig waarvan die hart nie uitgeruk is en alles net oor finansiële teikens gaan nie.

Dis vir hom ook belangrik dat kunstenaars regstreeks moet optree. “As jy nie op ’n verhoog kan sing nie, dan klim jy nie op nie. Ek glo nie noodwendig daarin om die heel beste sangers te hê nie. Maar ek wil niemand ook soos ’n robot in ’n studio laat klink nie. Uiteindelik moet ’n kunstenaar selftrots hê oor dit wat hy doen en bereik.”

Dit en dat oor Johan Vorster:

  • Hy het op sesjarige ouderdom met teaterproduksies in sy ouerhuis begin en R2-toegangsgeld gevra.
  • Hy het op twaalf lid van die Drakensberg Seunskoor geword.
  • Hy het ’n BMus-graad aan die NWU verwerf en sy eerste musiekblyspel is in die Sanlam Ouditorium uitgevoer.
  • Hy was deel van die musiekgroep Eden.
  • Hy het al talle treffers geskryf, waaronder Is jy bang, 54 5de straat, Kwart oor 5, Pa en Seun, Juliet, ’n Vrou wil dit hoor, Die kaplyn, Net voor die storm kom en Swart koffie. Hy het reeds meer as 400 liedere gekomponeer of ’n aandeel daarin gehad.
  • In 2006 het hy en Sean Else Mozi Records op die been gebring en kunstenaars soos Bok van Blerk en Lianie May vasgeteken.
  • Hy het die album De la Rey vervaardig wat die meeste verkope tot dusver as oorspronklike Afrikaanse album behaal het.
  • Hy het ook later een van die kreatiewe baasbreine van die superkonsertproduksie Afrikaans is Groot geword.
  • In 2010 het hy Johan Vorster Songs gestig en Karlien van Jaarsveld, Dewald Wasserfall en Leah as nuwe kunstenaars vasgeteken.
  • In 2016 het hy Inhoud Huis Musiek op die been gebring en kunstenaars soos Jo Black, Robbie Wessels, Appel en Roan van As vasgeteken.
  • Johan is met Rencha getroud en hulle het drie seuns.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, sê “Die Gelofte” is nie getoonset met die doel om as  proteslied beskou te word nie. “Dit is ’n gewyde lied. Dit is ’n lied van introspeksie, ’n lied oor swakheid en ’n lied oor krag. AfriForum is as organisasie op Christelike waardes geskoei en ons glo dat dit elke mens se roeping is om moue op te rol en self hand aan die ploeg te slaan.”

Ná die wegholsukses van die eerste In Afrikaans-konsertreeks in Hartenbos, kan vakansiegangers hulle solank regmaak vir groot pret in Desember. AfriForum is vanjaar een van die borge by die In Afrikaans-konsertreeks wat vanaf 21–30 Desember in Hartenbos plaasvind. Kaartjies is beskikbaar by www.itickets.co.za, of alternatiewelik kan jy 0861 000 291 skakel.

Die Gelofte (musiekvideo)