Wie is ons?
Ons driebeensuksesresep, doelwitte en waardes
AfriForum is ’n burgerregteorganisasie sonder winsoogmerk wat op 26 Maart 2006 tot stand gekom het. Dié organisasie is gestig om Afrikaners buite die partypolitiek tot deelname aan die openbare debat en aksies op te roep. AfriForum is nie ’n gewone organisasie nie, maar is ’n voertuig om vir ons en ons nageslag ’n beter toekoms te skep deur AfriForum se driebeensuksesresep vir hoop uit te voer.
ONS DRIEBEENSUKSESRESEP

Roeping:
#AFRIFORUMSKEPTOEKOMS
Roeping is ons geheime wapen, aangesien dit aan ons die wete gee dat ons deur die genade van Bo die voorreg het om aan iets groter as bloot onsself te werk. AfriForum se roeping – oftewel bestaansrede – word soos volg meer omvattend in dié organisasie se visie omskryf:
Dat Afrikaners – wat geen ander tuiste ken nie – sinvol as Afrikaners in vreedsame naasbestaan met ander gemeenskappe blywend vry, veilig en voorspoedig aan die suidpunt van Afrika kan voortbestaan.

Uitvoerende vermoë:
#AFRIFORUMKAN
Indien AfriForum en ander instellings van die Solidariteit Beweging nie oor die uitvoerende vermoë beskik om ons plan uit te voer nie, sal ons goeie plan net ’n kreatiewe skryfoefening wees. Juis dáárom is dit noodsaaklik dat almal by AfriForum saamwerk om ons uitvoerende vermoë deurlopend te verbeter deur onder meer lede te werf en ons strukture aktief uit te bou en te versterk.
Ons personeelstruktuur se klem is op funksionaliteit eerder as hiërargie; ons vergaderings is funksioneel en ons fokus op belyning, kommunikasie en organisasiekultuur.

Veg-en-bou-plan:
#AFRIFORUMVEGENBOU
AfriForum skep ’n toekoms met ’n veg-en-bou-plan. Dié veg-en-bou-plan behels kortliks dat AfriForum vír geregtigheid en téén agteruitgang veg, en dat die organisasie terselfdertyd prakties op voetsoolvlak alternatiewe werklikhede bou wat dit vir ons gemeenskap moontlik maak om met ’n groeiende mate van selfstandigheid en selfbestuur na ons eie belange te kan omsien.
Dié plan is gegrond op AfriForum se missie, wat soos volg is:
AfriForum werk om te verseker dat daar aan die basiese voorwaardes vir die voortbestaan van Afrikaners voldoen word deur as ’n geloofwaardige Afrikanerbelangeorganisasie en burgerregtewaghond – wat deel van die Solidariteit Beweging vorm – buite die werksplek op internasionale, nasionale en plaaslike vlak die impak van die huidige politieke werklikhede op Afrikaners te hanteer en te probeer beïnvloed terwyl daar terselfdertyd gewerk word om volhoubare strukture te vestig waardeur Afrikaners selfstandig hul eie voortbestaan kan verseker.
ONS VYF OORHOOFSE KERNFOKUSPUNTE:
Veiligheid
AfriForum se werksaamhede moet meewerk om ’n veilige samelewing te vestig waarin AfriForum se lede, ondersteuners en ander burgers veilig is en voel.
Selfstandigheid
AfriForum se aktiwiteite moet meewerk om selfstandigheid en groeiende selfbestuur te vestig onder Afrikaners en die gemeenskappe waarin hulle woon en werk.
Kulturele identiteit
AfriForum se aksies moet meewerk om die Afrikaneridentiteit, -kultuur, -geskiedenis en die Afrikaanse taal te beskerm en uit te bou, sodat Afrikaners blywend en met behoud van hul identiteit as gemeenskap sal voortbestaan.
Geregtigheid
AfriForum se doel is om geregtigheid op verskeie vlakke te laat seëvier. Dié strewe na geregtigheid strek wyer as Afrikanerbelange en sluit ook geregtigheid in die samelewing as geheel in.
Organisasiebou
AfriForum, wat bloot ’n voertuig vir die bereiking van ’n groter doel is, moet so sterk moontlik wees om al die doelwitte te kan bereik wat ons wil najaag. Daarom is die versterking van AfriForum as organisasie ’n doelwit wat bereik moet word.
ONS WAARDES

Roeping
Ons bly almal mense met foute, maar ’n Godgegewe roeping gee aan gewone mense soos ons die deursettingsvermoë, energie en dryfkrag om selfs onder ongewoon moeilike omstandighede buitengewone sukses te behaal.

Respek
Selfrespek en respek vir ander is voorvereistes. Dit is in almal se belang om wedersydse erkenning en respek te vestig.

Selfbestuur
Die verantwoordelikheid vir my, my gesin, my gemeenskap en AfriForum se toekoms kan nie op ander mense afgeskuif word nie. Daarom neem ons self verantwoordelikheid vir die toekoms.
LEDETAL
Kyk hoe groei ons! ’n Groeiende ledetal beteken dat ons ons suksesse nóg verder kan uitbrei.
BESTUUR
DEEL VAN DIE DAGBESTUUR

KALLIE KRIEL
Uitvoerende hoof

WILLIAM WAUGH
Hoof: Organisasiebou

FRIK DREYER
Bedryfshoof
OPERASIONELE FORUM

PHILLIP MULLER
Bestuurder: IT en Stelsels

FRANCOIS SMIT
Hoof: Hulpbronne

NIC ARNOLD
Hoof: Koöperatiewe voldoening

MARINA WIESE
Hoof: Kommunikasie
BELEIDSFORUM

ALANA BAILEY
Hoof: Kultuursake

BAREND UYS
Hoof: Interkulturele samewerking

MONIQUE TAUTE
Hoof: Veldtogte

JOHAN KRUGER
Hoof: Gemeenskapsontwikkeling