|

Herrie bars los oor sosialemediaplasings in aanloop tot SR-verkiesing by Maties

’n Groep pro-Afrikaanse Studenteraadkanditate (SR-kandidate) by die Universiteit Stellenbosch (US) is die afgelope week betrek in ’n heksejag deur die universiteit se verkiesingskommissie wat skynbaar alles in die stryd wil werp om die kandidate uit die wedloop om ’n plek in die nuwe SR te hou.

’n Herrie het losgebars toe die verkiesingskommissie die vyf kandidate verlede week by die studentehof aangekla het en geëis het dat hulle van vanjaar se verkiesing gediskwalifiseer moet word. Dit volg in reaksie op plasings wat op 25 Augustus op die sosialemediaplatforms “Stellenbosch staan op” en “StudentePlein” gemaak is waarin dié groepe se lede aangemoedig is om vir die kandidate te stem in vanjaar se SR-verkiesing wat vanaf 19 tot 27 Augustus by Maties plaasgevind het. Lede is boonop aangemoedig om die kandidate te ondersteun op grond van hul pro-Afrikaanse ingesteldheid.

Dié versoek was egter een te veel vir die verkiesingskommissie wat aangevoer het dat die betrokke studente se verkiesingsveldtog strydig was met die Studentegrondwet en die universiteit se verkiesingsreëls.

Die studentehof het egter, weens ’n tekort aan bewyse, teen die verkiesingskommissie beslis.  Ten spyte van dié beslissing het die kommissie egter reg in eie hande geneem en die studente op 28 Augustus in kennis gestel dat hulle 24 uur tyd gegee word om bewyse te lewer vir waarom hulle nie gediskwalifiseer moet word nie.

AfriForum Jeug het sy regspan opdrag gegee om die saak te ondersoek en die studente by te staan. In ’n prokureursbrief het Wian Spies, prokureur by Hurter Spies, dit duidelik gestel dat die studente nie die Studentegrondwet of die universiteit se verkiesingsreëls oortree het nie en dat die proses wat tot dusver in dié verband gevolg is, onreëlmatig en onwettig is.  

Hoewel die klagtes teen vier van die vyf kandidate intussen van die hand gewys is, het die kommissie sy aanval op een van die kandidate vandeesweek verskerp en twee bykomende aantygings gemaak wat weer eens haar kans op ’n plek op die SR in gedrang bring.

Hierdie keer is die kandidaat daarvan beskuldig dat haar deelname aan ’n AfriForum Jeug-aksie ter viering van Vrouedag en die skynbaar onskuldige sosialemediaplasing daaroor, wat wys hoe bosse blomme vir vrouestudente in Stellenbosch uitgedeel is, neerkom op ’n oortreding van die universiteit se verkiesingsreëls. Daar is voorts aangevoer dat dié plasing aan die kandidaat ’n onbillike voordeel gegee het in die SR-verkiesing.

Aangesien dié plasing wat op 9 Augustus gemaak is, geensins verband gehou het met enige kandidaat se verkiesingsveldtog nie en ook geen melding maak van enige spesifieke kandidaat of enige ondersteuning aan ’n SR-kandidaat gelewer het nie, hou AfriForum Jeug vol dat dié aantygings ongegrond is.

Spies het in ’n tweede regsbrief vroeër vandeesweek weer aan die kommissie bevestig dat geen reëls deur die AfriForum Jeug-plasing geskend is nie aangesien geen regulasie die ondersteuning van SR-verkiesings of -kandidate deur geregistreerde US-studenteorganisasies verbied nie.

AfriForum Jeug het intussen benadruk dat dit ’n geregistreerde organisasie by die US is en dat die kandidaat se lidmaatskap by AfriForum Jeug en haar deelname aan aksies van die organisasie nie neerkom op ’n oortreding van veldtogfinansieringsreëls nie.

Yvonne Gerber, jeugbeampte vir Ontwikkeling by AfriForum Jeug, meen die kommissie se heksejag ondermyn die hele verkiesingsproses en dring daarop aan dat die situasie billik en deursigtig hanteer moet word om te verseker dat geen kandidaat onbillik geteiken word nie. “Elke student by die US verdien ’n vrye, demokratiese en deursigtige verkiesingsproses,” sê sy.

Gerber benadruk dat AfriForum Jeug bereid is om verdere dringende regstappe te oorweeg indien die verkiesingskommissie sou voortgaan om buite die raamwerk van die vasgestelde reëls en regulasies op te tree. “Ons is daartoe verbind om te verseker dat die regte van kandidate – en alle studente – beskerm word.”

Intussen is die aankondiging van die verkiesingsresultate, wat oorspronklik op 28 Augustus gedoen sou word, al verskeie kere uitgestel. Die aankondiging van die resultate is nou geskeduleer om môre (5 September) gemaak te word.

Soortgelyke plasings