|

AfriForumTV se Jabie verras oorsese besoeker

Dit is nie aldag dat ’n mens een van jou TV-helde ontmoet nie en nog minder dat jy saam met hom kan kuier en speel nie. Dit was egter onlangs die geval vir Wilco Els (3) wat saam met sy ouers uit Dublin, Ierland, in Suid-Afrika kom vakansie hou het en ’n oggend kon deurbring saam met Jabie van die AfriForumTV-reeks met dieselfde naam.

“Wilco se ouers het van die reeks te hore gekom toe vriende van my in Ierland gaan kuier het en dié vriende Wilco se ouers van AfriForumTV se kinderreekse vertel het. Daar is ’n groot behoefte vir Suid-Afrikaners in die buiteland om hul kinders aan Afrikaanse reekse bloot te stel. So het Wilco Jabie begin kyk en ’n groot aanhanger geword. Wilco was aanvanklik bietjie sku, maar daarna het ons lekker gekuier en gespeel. Soveel so dat toe ek moes gaan wou hy nog lank aanhou speel,” sê Jabus Steenkamp oftewel Jabie.

Jabie en Wilco Els

AfriForumTV het die idee van ’n kinderreeks vir twee- tot sesjariges gehad en toe Steenkamp die geleentheid gegee is om die reeks te maak, het hy dit met albei hande aangegryp. Jabie het reeds ’n derde seisoen wat getuig van hoe gewild dié reeks geword het. Jabie besoek in die reeks verskillende plekke waar ouers hul kinders kan neem om lekker te speel. Hy leer kinders speel-speel van onder meer getalle, vorms en kleure. So was Jabie al by Croc City, die dieretuin by Hartbeespoortdam en verskeie kere by die Voortrekkermonument (VTM).

“Die VTM is ’n ongelooflike plek met só baie om te doen. Ons beplan om nog episodes daar te gaan opneem. Ons is ook altyd op soek na nog idees en interessante plekke vir die reeks. Ouers kan gerus foto’s neem van plekke wat hulle dink ons kan besoek en dit op ons Facebook-blad los. AfriForumTV is ’n wonderlike platform vir kinders, want ek as ouer hoef nie te bekommer dat my kind onvanpaste inhoud daarop sal sien nie.”

Steenkamp is ’n onderwyser by die Laerskool Elarduspark in Pretoria-Oos waar hy Engels aan graad 4’s leer. Tussendeur sy voltydse werk maak hy tyd om episodes van Jabie op te neem. By skoolgeleenthede loop hy ook af en toe iemand raak wat hom as Jabie herken.

“Soms kom ek iemand tee wat weet wie ek is. Daar is dikwels ’n oomblik waar hulle nie seker is of ek werklik Jabie is nie, maar dan word daar gewoonlik ’n paar foto’s geneem. Ek het nog altyd ’n hart vir kinders gehad, veral die wat swaarkry en in nood verkeer,” sê Steenkamp, wat self twee dogtertjies het.

Alhoewel Jabie tot dusvêr net in Gauteng opgeneem is, is daar planne om die reeks moontlik na die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal uit te brei.

Om meer oor die reeks uit te vind of om episodes daarvan te kyk, besoek AfriForumTV. Dié reeks kan soos ander reekse op die platform gratis gekyk word, selfs in die buiteland.

Soortgelyke plasings