AfriForum eis dat Lekwa Plaaslike Munisipaliteit aan hofbevel voldoen en regte elektrisiteitstariewe instel

AfriForum het vandag die Lekwa Plaaslike Munisipaliteit gemaan om gehoor te gee aan die onlangse hofbevel wat elektrisiteitstariefverhogings as onwettig verklaar indien munisipaliteite nie die nodige kostestudies ingedien het nie. Die organisasie versoek dat die munisipaliteit hierdie bevel onmiddellik nakom.

Volgens die organisasie is dit onaanvaarbaar dat die munisipaliteit die hofbevel minag en in ’n skrywe aan die munisipaliteit het AfriForum ’n duidelike aksieplan geëis oor hoe die munisipaliteit van plan is om terug te keer na verlede jaar se tariewe, in ooreenstemming met die uitspraak. Die brief doen spesifiek ’n beroep op die munisipaliteit om te verduidelik hoe hulle van plan is om aan die bevel te voldoen en hoe lank dit gaan neem.

“Ons wil nou druk plaas op die munisipaliteit om te verseker dat die munisipaliteit aan die hof se uitspraak voldoen en verbruikers beskerm teen onwettige tariewe,” sê Hennie Bekker, distrikskoördineerder van AfriForum in die Hoëveld.

“Hierdie uitspraak is reeds in Augustus vanjaar gelewer en die Lekwa plaaslike munisipaliteit het steeds nie die verbruikers laat weet hoe die pad vorentoe lyk of hoe hulle van plan is om aan die hofbevel gehoor te gee nie.”

AfriForum moedig alle verbruikers aan om ’n dispuut te verklaar teen hul rekeninge ingevolge artikel 102 van die Munisipale Stelselswet, weens die onwettige tariefverhogings.

Soortgelyke plasings