|

AfriForum se Lichtenburg-tak kán bou

Die AfriForum-tak in Lichtenburg het tydens dié organisasie se nasionale kongres die afgelope naweek die toekenning ontvang vir Beste bouprojek van die jaar. Hierdie tak maak nie net slaggate reg nie, maar bou sommer self paaie oor. Die tak het die afgelope drie jaar 445,8 ton teer gebruik om slaggate te vul en paaie te herstel.

Die AfriForum-kongres het 22 tot 25 Augustus by die ATKV Klein Kariba buite Bela-Bela in Limpopo plaasgevind. Gedurende die toekenningsgeleentheid Saterdagaand (24 Augustus) het AfriForum sy takke vir hul harde werk in hul gemeenskappe vereer.

Slegs tydens AfriForum se slaggatmaand vanjaar het die Lichtenburg-tak 29 ton teer ter waarde van R100 000 gebruik om slaggate te herstel. Die tak ontvang donasies vir teer van die gemeenskap en plaaslike ondernemings wat dan gebruik word om die dorp se padinfrastruktuur met ’n span toegewyde werkers op te knap.

Pine Pienaar, projekleier van AfriForum se Lichtenburg-tak, was stomgeslaan toe hy die goeie nuus ontvang van dié tak wat die gesogte toekenning vir Bouprojek van die jaar ingepalm het.

“Ek het nog nooit die werk wat ons doen ligtelik opgeneem nie, maar om as wenners van dié kategorie aangekondig te word, is ’n ongelooflike groot eer. Die doel is of was nooit om iets daarvoor te kry nie, want ons doen dit vir die liefde van die saak. Daarom is hierdie toekenning net nog meer spesiaal,” voer Pienaar aan.

Pienaar sê verder dat die tak nie nou gaan slaplê nie, maar dat die harde werk nou eers begin “want nou is alle oë op ons”.

“Ek is ongelooflik trots op die harde werk wat hierdie tak daagliks insit om van hul dorp ’n spogdorp te maak. Hul harde werk is ’n teken van hul liefde en trots vir hul dorp – hulle doen dit moeiteloos en uit hul harte uit. Mag hierdie tak ’n inspirasie en motivering wees vir ander AfriForum-takke en vir gemeenskapslede om betrokke te raak,” sê Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

Soortgelyke plasings