AfriForum-waarnemers slaggereed om integriteit van verkiesing te help verseker

AfriForum se span van 134 onafhanklike waarnemers is nou ná verdere opleiding volledig toegerus om op 29 Mei die integriteit van die verkiesing by verskeie verkiesingslokale te verseker. Die burgerregteorganisasie is daartoe verbind om die verkiesingsproses noukeurig dop te hou ten einde te help om ’n regverdige verkiesing te bevorder.

Volgens Corné Cronje, bestuurder van Gemeenskapstrukture by AfriForum, werk dié organisasie hard om te verseker dat die beginsels van demokrasie gehandhaaf word en dat alle Suid-Afrikaners in ’n veilige en regverdige omgewing kan leef. “Verkiesings moet vry en regverdig wees, sonder enige inmenging of intimidasie van kiesers. Dít is vir AfriForum van kardinale belang en daarom het ons ook onafhanklike waarnemers opgelei vir hierdie taak.”

“Ons herinner alle kiesers om seker te maak dat hulle by hul geregistreerde stempunte gaan stem aangesien hulle nie toegelaat sal word om elders te stem nie.”

AfriForum se buurtwagte reg oor die land is ook op hoëgereedheid om die verkiesing te moniteer en gereed te wees om vinnig te mobiliseer indien ’n situasie dit vereis. “Ons buurtwagte is gereed om onmiddellik op te tree om te help om hul gemeenskappe te beveilig tydens die verkiesing,” sê Jacques Broodryk, hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid by AfriForum.

AfriForum moedig alle geregistreerde kiesers aan om hul kruisie te gaan trek en sodoende ’n verskil te maak in Suid-Afrika se toekoms. “Jou stem is van onskatbare waarde om verandering teweeg te bring en ’n beter toekoms vir almal te verseker,” sluit Cronje af.

Soortgelyke plasings