|

Benoni spog met 75 minder slaggate danksy AfriForum

AfriForum se Benoni-tak het verseker dat die Benoni-gemeenskap van hul paaie nou veilig kan gebruik sonder die vrees om in ’n slaggat te beland en sodoende talle lewens in gevaar te stel. In ’n indrukwekkende vertoning van gemeenskapsgees en deursettingsvermoë, het die tak saam met talle vrywilligers die afgelope week die koue en donkerte aangedurf om altesaam 75 slaggate op te vul. Hierdie slaggate het nie net ambulanse en nooddienste se vermoë om vinnig op noodgevalle te reageer belemmer nie, maar het ook dikwels motoriste se voertuie ernstig beskadig.

Daar is Woensdagaand (15 Mei) ingespring om slaggate in Benonistraat, O’Reilly Merry-straat, Ensign-laan en Wellingtonstraat te vul.

Hierdie projek is deel van ’n jaarlikse inisiatief wat deur AfriForum se Benoni-tak aangepak word. Hoewel die tak dwarsdeur die jaar die probleem met slaggate takel, word die herstelwerk gedurende die wintermaande versnel omdat die slaggate gewoonlik langer hou as dit buite die reënseisoen opgevul word. In die winter is daar ook minder gras om te sny, wat die tak dus die geleentheid gee om meer aandag aan die paaie te gee. Hierdie verskerpte fokus verseker dat die paaie in stand gehou word en dat motoriste veilig op die pad is, wat toon dat AfriForum se toewyding aan dienslewering en gemeenskapsveiligheid onwrikbaar is.

“Hierdie toewyding aan die gemeenskap se veiligheid is inspirerend en ’n bewys van wat bereik kan word wanneer mense vir ’n gemeenskaplike doel saamwerk,” sê Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

“Ons as inwoners kan nie bekostig dat ons dorp verder verval en verniel word nie. Nou is die tyd om betrokke te raak en op te staan teen swak dienslewering,” sluit Ferreira af.

Hierdie projek illustreer die impak van gemeenskapsgedrewe projekte en beklemtoon die belangrikheid van gemeenskapsbetrokkenheid om uitdagings die hoof te bied. AfriForum se Benoni-tak moedig inwoners aan om eienaarskap van hul omgewing te neem. Besoek www.wordlid.co.za om by AfriForum betrokke te raak.

Soortgelyke plasings