|

NGV: AfriForum en publiek wil stemme dik maak, maar regering gee te min geleentheid

Die openbare verhore oor die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) wetsontwerp  is hopeloos te min, power geadverteer, swak geleë en onhaalbaar vir werkende mense om by te woon. Só sê die burgerregteorganisasie AfriForum nadat die laaste verhore in Gauteng en die Wes-Kaap voltooi is.

Dit volg nadat AfriForum nie antwoord gekry het op ’’n regsbrief aan die Gautengse wetgewer oor die NGV openbare verhore nie en die DA in die Wes-Kaap daarop aangedring het dat daar meer as ’’n skamele sewe openbare verhore in dié provinsie gehou moet word. AfriForum wys daarop dat daar slegs drie openbare verhore in Gauteng was en nog geen verdere verhore in ander provinsies nie. Daar is verder geen ordelike formaat aan die verhore nie en sprekers kry dikwels onvoldoende geleentheid om hul voorleggings te voltooi. Die burgerregteorganisasie het op 19 September in ’n regsbrief geëis dat die openbaredeelnameproses in Gauteng uitgebrei word en behoorlik geadverteer word, maar die provinsiale wetgewer het teen die sperdatum geen reaksie getoon nie.

“15 miljoen inwoners in Gauteng se gesondheidsorg kan handomkeer verander word, maar hoogstens 1 500 van hulle het kans gehad om hul menings daaroor te lug. Dít kan hoegenaamd nie tel as burgerlike betrokkenheid nie,” sê Louis Boshoff, AfriForum se woordvoerder oor die NGV. “Die ANC besef dat Suid-Afrikaners gekant is teen NGV en probeer daarom om hulle stil te hou.”

Boshoff stel voorts dat die openbaredeelnameproses opgestel is in die belang van gewone inwoners van die land, maar dat die regering probeer om openbare besluitneming te beperk tot ’n klein politieke elite deur die deelnameproses doelbewus af te water.

“Waar billike geleentheid tot openbare deelname vereis word, sal ons aandring op billike geleentheid tot openbare deelname,” sluit Boshoff af.

AfriForum moedig lede van die publiek aan om NGV teen te staan by openbare verhore of deur www.jougesondheid.co.za te besoek vir verdere inligting.

Soortgelyke plasings