|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

Die Hoogste Hof van Appèl het vandeesweek bevind dat die Menseregtekommissie (MRK) se bevindinge nie afdwingbaar is nie en slegs deur ’n hof afgedwing kan word. AfriForum beskou hierdie uitspraak in ’n saak tussen die MRK en AgroData as ’n reuseoorwinning vir geregtigheid.

Die voortgesette verandering van plekname is volgens AfriForum ’n duur oefening waarmee swak presterende owerhede dikwels die illusie probeer skep dat hulle met effektiewe bestuur besig is.

Die skokkende feit dat daar slegs 8 500 speurders in die land is, het weer eens beklemtoon waarom AfriForum meen dat die polisie en gemeenskappe moet saamwerk om die oorlog teen misdaad te wen.

Nóg 19 AfriForum-buurtwaglede het die organisasie se 13de protospankursus voltooi. AfriForum beskik nou oor 220 gespesialiseerde buurtwaglede.

Die Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie is vanjaar na Mpumalanga uitgebrei en 30 leerders van Hoërskool Nelspruit en Hoërskool Bergvlam het aan hierdie streeksuitdunronde deelgeneem. Hoërskool Nelspruit se spanne het skoonskip gemaak tydens dié kompetisie.

Verskeie AfriForum-takke het projekte aangepak om hul onderskeie dorpe netjies en skoon te maak. Die jeug in Christiana het 30 liter verf gebruik om voetoorgange rondom die skool weer duidelik te verf.

In Kroonstad het die AfriForum-tak agt sonkragligte by die Robotbrug in Markstraat geïnstalleer. Die Centurion-tak het 13 straatligte, wat deur ’n gemeenskap aangekoop is, geïnstalleer en hierdie ligte werk ook nou met sonkrag.

AfriForum se Noord van die berg-tak in Pretoria se buurtspan het 2 000 swartsakke se vullis opgeruim, 92 vragte rommel weggery en sewe hektaar se gras gesny. Hulle het ook 341 onwettige advertensieborde verwyder. In die Moot is bossiekappers en kettingsae ingespan om die gebied netjies te maak. Opknappingswerk is ook by twee van AfriForum se noodwaterpunte gedoen terwyl die buurtwag oor ’n tydperk 91 patrollies gery het.

Die Pretoria-aksiespan, wat vier voltydse werknemers het, het op verskeie plekke in die stad slaggate herstel, rommel en vullis op die middelmanne op van die hoofroetes opgetel en verkeersirkels en randstene geverf.

AfriForum se Witrivier-tak en ’n groep privaat ondernemings het die Gracelink-skool se klaskamers, slaaplokale en badkamers oorgeverf. Dié tak het 40 liter verf vir hierdie projek geborg.

Die Ermelo- en Chrissiesmeer-tak het 18 asblikke in Chrissiesmeer aangebring en sal hierdie asblikke gereeld leegmaak.

Die Machadodorp-tak het ’n kompakteerder aangekoop wat ingespan word wanneer slaggate herstel word. Dié tak het reeds heelwat slaggate herstel.

In Heilbron het die AfriForum-tak 13 ton tuin- en huishoudelike vullis op verskeie plekke in die dorp opgetel en weggery. ’n Tweede noodwaterpunt is ook in die dorp opgerig.

AfriForum se Knysna-tak het sowat 150 vragte tuinvullis, huishoudelik rommel en ander soorte vullis by die ingang van die Knysna Old Place munisipale vullisterrein opgelaai en weggery. Sowat 42 ton gruis is ook gebruik om slaggate op die toegangspad te vul. Dié tak het ook 40 komberse, 40 musse en 40 pare warm kouse aan die Protea Dienssentrum vir bejaardes in Plettenbergbaai oorhandig.

Die Hessekwa-tak het toiletware ter waarde van R5 000 aan Huis Edwin Theron in Albertinia geskenk. Die Albertinia-plaaswag het verskeie suksesvolle operasies saam met die polisie uitgevoer waartydens arrestasies gemaak is en boetes ter waarde van R6 000 uitgeskryf is.

Die AfriForum-tak in Malmesbury het voortgegaan met die opknapping en instandhouding van die omliggende monumente, tuine en infrastruktuur by die T-aansluiting in Piet Retiefstraat en Voortrekkerweg.

Die organisasie se Oudtshoorn-tak het 3,2 ton teer gebruik om die swak toestand van die pad voor Langenhoven Gimnasium te herstel.

AfriForum se Kaap Agulhas-tak het drie ton teer aan die Kaap Agulhas Plaaslike Munisipaliteit oorhandig vir herstelwerk aan paaie in Bredasdorp se nywerheidsgebied en sakekern.

Die Kathu-tak het met fase een van hul opknappingsprojek by die Hugenotepark-erfenisterrein begin.

Die Walker Drive-buurtwag wat deel vorm van AfriForum se Port Elizabeth-tak het gehelp om een verdagte wat ’n vragmotor gekaap het, vas te trek.

Die LPR-kamera wat AfriForum se Potchefstroom-buurtwag saam met Mooiriver Beskerming op die N12 opgerig het, het daartoe gelei dat verdagtes wat by ’n voertuig ingebreek het, binne ’n week aangekeer is.

Soortgelyke plasings