|

14 Augustus 2024: Die toekoms van Afrikaans

Of jy dit haat of geniet, kunsmatige intelligensie kan soms handig wees. Op die vraag wat van die mees bedreigde tale in die wêreld is, antwoord dit:

  1. Resígaro (Peru)
  2. Chulym (Rusland)
  3. Mudburra (Australië)
  4. Patwin (VSA)
  5. Ainu (Japan)
  6. Chamicuro (Peru)
  7. Vod (Rusland)
  8. Chemehuevi (VSA)
  9. Wallies (VK)
  10. Lakota (VSA)

Die bedreiging is só erg, dat sommige van hierdie tale reeds as uitgestorwe gelys word, terwyl ander in enkele dorpies en hoofsaaklik onder ouer mense voortleef. Hierdie tale is eeue oud, maar het nooit ontwikkel tot die vlak waarop Afrikaans vandag verkeer nie. Natuurlik maak dit die uitsterwingsproses van die tale makliker, veral omdat dit moet meeding met groot wêreldtale soos Engels, Russies en Spaans.

Onder die bedreiging van hierdie groot wêreldtale, begin sterk tale ongelukkig ook swig. Nederland kan van die proses getuig. Die land is bekend vir die uitnemende tersiêre onderrig wat verskeie instellings daar aanbied. Dit het ’n gesogte bestemming geword vir voornemende studente wat nie elders kon keuring kry nie, lus was vir ’n buitelandse studieavontuur, of ’n kursus wou doen wat nie elders beskikbaar was nie. Hierdie buitelandse studente het vir Nederland ’n belangrike bron van inkomste geword. Mettertyd het universiteite om mededingend te bly, kursusse ook in Engels en uiteindelik nét in Engels begin aanbied.

Wat aanvanklik na ’n positiewe ontwikkeling gelyk het, het nou skielik negatiewe uitkomste opgelewer. Jong Nederlanders se vermoë om kreatief te werk, dink en redeneer het volgens dosente met wie ek onderhoude gevoer het, sigbaar begin afneem. Uitnemende Nederlandse bronne is minder gebruik met die gevolg dat jong Nederlanders se wêrelduitkyk verskraal het tot wat Engelse bronne aanbied. Nederlandse burgers se behoefte aan dienste in hulle eie taal kon al minder bevredig word, omdat die jong afgestudeerdes nooit geleer het om hulle eie taal behoorlik op ’n professionele vlak te gebruik nie. Akademici is nou ernstig bekommerd oor die ekonomiese en maatskaplike gevolge vir die land wanneer die jong afgestudeerdes huidige kundiges begin vervang.

In Suid-Afrika beleef ons soortgelyke druk op inheemse tale, insluitend Afrikaans. Al verskil is dat diegene wat die verskraling van Afrikaanse onderrig voorstaan, ook politieke agendas het. Hulle is nie ekonomies gedrewe soos in die geval van Nederland nie, ook nie deur ’n oordrewe waardering vir Engels nie, maar dikwels deur ’n afkeer in die sprekers van Afrikaans. Deur aan te dring op die verengelsing van Afrikaanse onderriginstellings, kan hulle Afrikaanssprekendes se kultuur en waardes bykom.

Hierdie proses is reeds byna geheel en al voltrek in openbare Afrikaanse tersiêre instellings. Deur die versiendheid van die Solidariteit Beweging is die privaat instellings Sol-Tech en Akademia gevestig, met ’n kursusaanbod wat vinnig groei. Sonder instellings van hierdie aard, is die kans dat Afrikaans op akademiese en professionele gebied op datum met woordeskat vir die jongste ontwikkelings gaan bly, skraal.

In openbare skole sien ons nou dieselfde proses gebeur as wat by tersiêre instellings die geval was. Onderwysowerhede plaas druk op skole om parallelle of dubbelmedium Engelse onderrig te akkommodeer. Groot beloftes van meer skoolfondsbetalers en steun van die owerhede met leermateriaal en onderwysers word gemaak. Dan ná enkele jare word aangekondig dat die skool voortaan van graad een of graad agt af nou net Engelse onderrig gaan aanbied. Soms is daar demografiese redes hiervoor – die skool is moontlik in ’n omgewing met min Afrikaanssprekendes, maar helaas gebeur dit ook dikwels dat die oorwerkte onderwysers moeg raak om in twee tale skool te hou, of die ouers aanvaar dat Engelse onderrig beter vir hulle kinders gaan wees.

AfriForum het die afgelope 18 jaar gereeld gewys op die vele akademiese, ekonomiese, maatskaplike en selfs gesondheidsvoordele van Afrikaanse moedertaalonderrig. Nuwe inligting raak deurlopend beskikbaar van nóg positiewe uitkomste van moedertaalonderrig en lande wat floreer omdat hulle wegbeweeg van koloniale onderrig in wêreldtale terug na moedertaalonderrig toe.

Op 14 Augustus, die dag waarop die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in 1875 gestig is met die doel om Afrikaans tot volwaardige taal te maak, kan ons terugkyk na die prestasies in die taal en die ryk skat wat die jong taalaktiviste van die GRA en hulle opvolgers vir ons geskep het. Ongelukkig sal niks hiervan betekenis hê, indien ons op ons wagbeurt hierdie taal laat stagneer nie. Om te bid, droom en kuier in Afrikaans is goed en wel, maar as jy nie daarin skryf, skep, werk en leer nie, gaan dit nie oorleef nie. Die tien tale wat op die lys bo verskyn, getuig hiervan.

Die uitdaging van 14 Augustus 1875 was dat ’n taal gepraat is, maar nog geformaliseer moes word. Die uitdaging van 14 Augustus 2024 is om hierdie wonderlike geformaliseerde taal dinamies lewend te hou. Dit is elkeen van ons plig, want taal en kultuur is nie ’n toevalligheid nie, maar ’n gawe aan elkeen uit God se Hand.

Soortgelyke plasings