|

Die boer en die reg-reeks gee duidelikheid oor sake wat boere raak

Die boer en die reg is vanjaar regstreeks op AfriForum se YouTube-kanaal aangebied waartydens daar in gesprek getree is met verskeie kenners oor onderwerpe wat boere raak. Noodweer en vuurwapens, veediefstal en veiligheid, huis-en-haard-beskerming en die toekoms van water in Suid-Afrika is van 26 tot 29 Junie bespreek om meer duidelikheid aan boere te bied.

Marnus Kamfer, regs-en-risikobestuurder by AfriForum, het die eerste aand oor noodweer en selfverdediging tydens plaasaanvalle gesels om meer inligting te gee oor wanneer en hoe ’n mens mag optree om jouself en jou gesin binne die raamwerk van die wet te beskerm.

“Daar is altyd onsekerheid oor wanneer dit noodweer en wanneer dit selfverdediging is. Die regte woord wat ’n mens wil gebruik is noodweer. Selfverdediging dui daarop dat jy jouself wil beskerm terwyl noodweer dui om ander mense ook te beskerm.”

Volgens Kamfer is daar nie ’n wet op noodweer of selfverdediging nie, maar is dit eerder iets wat in ons regsbeginsels vasgelê is. “As jy sê jy het in noodweer opgetree, moet jy in die hof kan bewys dat daar ’n onmiddellike dreigende aanval op jou was. Met ander woorde as jy nie dadelik optree nie gaan jy of jou geliefdes seerkry.”

Om noodweer in die hof te kan pleit, moes jy teen ’n aanvaller opgetree het terwyl die aanval nog aan die gang was. Kamfer het beklemtoon dat jy nie teen die aanvaller kan optree wanneer hy omdraai en weghardloop nie aangesien die aanval dan nie onmiddellik dreigend was nie.

Dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder by Vrystaat Landbou, en Llewellynn Hemmens, AfriForum se veiligheidshoof vir die noordstreek.

Dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder by Vrystaat Landbou, en Llewellynn Hemmens, AfriForum se veiligheidshoof vir die noordstreek, het oor veiligheid en veediefstal gesels.

Volgens Buys moet die verskillende afdelings in die SAPD beter saamwerk om misdaad te verminder. “Die regering kom nie hul regsverpligting na ten opsigte van die landelike beveiligingstrategie nie. Veediefstal is werklik ’n reuse-eiendomsverwante misdaad wat groot monetêre finansiële verliese vir die boerderygemeenskap te weeg bring.” Buys sê veediefstal het oor die afgelope dekades ontplof al weerspieël die SAPD se syfers dit nie. In die Vrystaat alleen beraam hulle elke jaar vir verliese van R1 miljard.

“Veediefstal is ’n eiedomsverwante misdaad wat ontaard het in ’n kontakmisdaad aangesien die misdadigers met wapens opdaag en nie skroom om te skiet nie. In terme van ons syfers oor plaasaanvalle gee ons dit ook so deur oor hoeveel van die plaasaanvalle te doen het met veediefstal,” sê Buys.

Een veiligheidsplan kan nie nasionaal op almal afgedwing word nie omdat almal se omstandighede verskil, sê Hemmens. “Mense by die kus sukkel byvoorbeeld met perlemoenstropery terwyl boere op die grense weer met veediefstal sukkel. Hierdie veiligheidsplanne of gebeurlikheidsplanne moet dan vir die verskillende gebiede aangepas word om op die spesifieke gebied van toepassing te wees. Gesamentlike koördinering tussen die onderskeie rolspelers speel ’n belangrike rol met dié aanpassing en die gereelde inoefening van planne kan help om aanvalle af te weer.”

Buys en Hemmens het beklemtoon hoe belangrik opleiding is sodat jy tydens noodsituasies presies weet wat gedoen mag word en wat nie.

Thomas van Dalen, opleidingsbestuurder by AfriForum, het tydens sy gesprek oor huis-en-haard-beskerming gesê proaktiewe optrede gaan daaroor om altyd voorbereid te wees en ordentlik te beplan oor hoe jy jou gesin en huis kan beveilig.

“Ons wil van die begin af eerder die misdadiger met proaktiewe optrede weghou as wat ’n mens reaktief moet optree om hulle uit te hou. Mens moet begin by jou eie veiligheid by die huis soos met diefwering en traliehekke. Dan kring dit uit tot buite die huis met ’n heining of kameras wat gemoniteer word.”

Hy het verder benadruk dat gebeurlikheidsplanne uiters belangrik is en gereeld ingeoefen moet word sodat almal in die huis presies weet hoe daar opgetree moet word wanneer ’n aanval plaasvind.

Sy raad aan boere is om nooit jou waaksaamheid te verslap nie. “Maak altyd seker dat jou traliehekke gesluit is en jou alarm geaktiveer is. Weet wie jou bure is en sorg dat jy hulle telefoonnommer het.”

Daniël Eloff van Hurter en Spies Ingelyf, het tydens Donderdagaand se gesprek uitgebrei oor die nuwe waterregulasies wat aangekondig is en sê dit is skrikwekkend dat waterlisensiehouers se toegang tot water bepaal gaan word deur hulle swart ekonomiese bemagtiging-samestelling.

“Omdat dit regulasies is en nie ’n wet is wat deur die parlement goedgekeur moet word nie, kan hierdie regulasies baie vinniger in werking kom.”

Volgens Lambert de Klerk, bestuurder van Omgewingsake by AfriForum, is die grootste oorsaak van besoedeling, veral wat ons riviere betref, munisipale infrastruktuur wat nie behoorlik werk en in stand gehou word nie. Hy het ook daarop gewys dat daar baie min aanspreeklikheid is in terme van besoedeling en dat staatsentiteite mekaar nie wil vervolg nie.

Eloff sluit hierby aan en sê wat Suid-Afrika kort is ’n strafregtelike element waar die amptenaar deur die hof skuldig bevind word en die persoon die gevolge dra eerder as die munisipaliteit.

De Klerk se raad aan mense om swak munisipale bestuur onder die loep te neem, is om die papierspoor daar te stel deur briewe te skryf aan die munisipaliteit of om klagtes in te dien.

“’n Georganiseerde gemeenskap is ’n sterk gemeenskap en daarom het ons begin om ook proaktief op te tree deur noodwaterpunte in dorpe op te rig waar ons takstrukture het. As jy sien jou water is ’n snaakse bruinerige kleur, kook dit eerder. Die oomblik wat jy twyfel oor die watergehalte, sal ek mense aanraai om die water te kook of om eerder water aan te koop,” was De Klerk se raad aan mense oor veilige drinkwater.

Kyk die reeks hier.

Soortgelyke plasings