|

8 uit 9 provinsies se steun vir BELA bewys minagting vir openbare belange – AfriForum

Dat agt uit die land se nege provinsies die huidige weergawe van die omstrede Wetsontwerp op Basiese Onderwyswette (beter bekend as die BELA-wetsontwerp) steun, bewys volgens AfriForum dat openbare belange en insette geminag word en die provinsiale owerhede slegs op eie belange en magsuitbreiding fokus. Die provinsies het hierdie aanduiding van steun deur mandate by die Gekose Komitee oor Onderwys en Tegnologieë, Sport, Kuns en Kultuur bekendgemaak.

Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, noem, met verwysing na die openbare raadplegingsessies wat die afgelope drie maande landwyd oor die wetsontwerp plaasgevind het, dat organisasies en individue in groot getalle opgedaag het en met deeglik begronde argumente teenstand teen bepalings van die wetsontwerp getoon het. Van die organisasies, insluitend AfriForum, het volgens haar ook op grond van regsmenings van senior regslui beklemtoon dat hulle regsaksie sal onderneem indien die wetsontwerp, soos dit tans daar uitsien, aanvaar en geïmplementeer word.

“Duidelik stel agt uit die nege provinsies se owerhede nie belang in die gegronde besware van die publiek of die risiko van duur regsaksies nie. Nog minder slaan hulle ag op die gevare wat dit vir die uitbouing van gehalte onderrig in die land inhou. Aan die vooraand van die verkiesing is hul fokus slegs op magsuitbreiding en om die oormaat ouers wat ontevrede is met die swak onderrig wat hul kinders ontvang, te paai met hierdie wetsontwerp wat die situasie net verder gaan vererger,” meen Bailey.

Dit is veral die feit dat die finale besluitnemingsmagte oor skole se plasings- en taalbeleide dan voortaan by provinsiale onderwyshoofde gaan berus, wat vir AfriForum onaanvaarbaar is. “Hierdie stap gaan beheerliggame ontmagtig. Húlle wat die beste weet wat in hul skoolgemeenskap se belange is, gaan blote rubberstempels word wat ondergeskik aan die wanfunksionele onderwysowerhede in hul provinsies sal wees.”

“Ons weet hierdie einste agt provinsies oefen voortdurend druk op skole se beheerliggame uit om meer kinders in te neem en enkelmedium- Afrikaanse skole na dubbel- of parallelmedium-instellings om te skakel. Dat die huidige druk met die aanvaarding van BELA opdragte sal word, gaan rampspoedig vir die toekoms van onderwys in die land wees. AfriForum beskou die wetsontwerp as ’n direkte aanslag op gehalte onderrig en veral ook die Afrikaanse gemeenskap. Ons sal dit daarom beslis met regsaksie plaaslik, en indien nodig, internasionaal teenstaan,” beklemtoon sy.

Soortgelyke plasings