AfriForum se Stilfontein-tak loods skoonmaakaksie by begraafplaas en neem aan nasionale massapatrollie deel


Die AfriForum-tak in Stilfontein het die afgelope naweek aan die burgerregte-organisasie se nasionale massapatrollie deelgeneem, asook ’n skoonmaakaksie by die dorp se begraafplaas geloods.
Die buurtwag het op verskeie voorvalle gereageer en aangesien dit Nasionale Vrouemaand is, het lede ook pamflette oor die bekamping van geweld teen vroue en kinders aan die publiek uitgedeel.
Die skoonmaak van die plaaslike begraafplaas volg nadat dit al vir ’n geruime tyd lank in ’n haglike toestand is.

“Die Stilfontein-buurtwag het die begraafplaas skoongemaak as deel van AfriForum se Rus in Vrede-veldtog. Ons wil elkeen van die buurtwaglede bedank vir hul vrywilligheidswerk, asook vir die donasies,” sê Jackie Maritz, AfriForum se buurtwagkoördineerder in Stilfontein.

Danksy AfriForum se selfdoeninisiatief is die Stilfontein-begraafplaas nou weer skoon, veilig en toeganklik vir die inwoners van dié dorp.

“Hierdie is ’n goeie voorbeeld van gewone gemeenskapslede wat ’n verskil in die gemeenskap maak. Ons moedig die publiek aan om by hul plaaslike AfriForum-tak se selfdoenaksies betrokke te raak,” sê Stephen Nel, AfriForum se assistentkoördineerder vir Noordwes.

Soortgelyke plasings