|

AfriForum: Cele moet Mbalula met dieselfde ywer ondersoek waarmee hy publiek tydens inperking vervolg

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het vandag in ’n brief aan Bheki Cele, Minister van Polisie, daarop aangedring dat die burgerregteorganisasie se klag teen Fikile Mbalula, Minister van Vervoer, met dieselfde toewyding ondersoek word as waarmee die polisie 230 000 mense gearresteer het vir die sogenaamde oortreding van inperkingsregulasies.

Dit volg nadat AfriForum in Augustus 2019 strafregtelike klagtes van geldwassery en korrupsie teen Mbalula (voormalige Minister van Sport) by die Brooklyn-polisiestasie ingedien het, omdat Sedgars Sport, ’n sportprodukteverskaffer, in 2017 na bewering tussen R300 000 en R680 000 vir die Mbalula-gesin se reis na Dubai opgedok het. AfriForum het die Openbare Beskermer (OB) in 2017 versoek om dié reis te ondersoek. Die OB het bevind dat Mbalula die Grondwet en ander wetgewing met hierdie reis oortree het. Sy het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) ook beveel om ondersoek in te stel om te bepaal of die fondse wat gebruik is om vir die reis te betaal, die opbrengs van geldwassery was al dan nie.

Die privaatvervolgingseenheid het ook op 29 April 2020 aan lt.genl. Godfrey Lebeya, hoof van die Valke, geskryf en hom gemaan om die nodige aandag aan AfriForum se klag teen Mbalula te gee. In dié brief dui adv. Gerrie Nel, hoof van die privaatvervolgingseenheid, aan dat AfriForum bekommerd is dat dit blyk dat daar ’n patroon ontstaan het waar sekere prominente politieke figure beskerm word teen strafregtelike vervolging.

“Dit blyk dat die polisie óf onwillig is, óf onbekwaam is om hoëvlakkorrupsiesake te hanteer. Hierdie saak is reeds lank voor die staat van inperking oopgemaak, maar dit blyk dat die polisie veel gretiger is om gewone, wetsgehoorsame mense in misdadigers te verander deur hulle (in sommige gevalle met geweld) te arresteer vir geringe oortredings van vae inperkingsregulasies wat konstant verander,” sê Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid.

In sy brief aan Cele voer adv. Nel ook aan dat hy hoop die minister se beheptheid met kwitansies vir sigarette sal deurspoel na die ondersoek teen Mbalula – wat beweer dat hy (Mbalula) self vir sy gesin se vakansie na Dubai betaal het.

“Dit is uiters kommerwekkend dat die NVG volgens alle aanduidings glad nie die instruksies in die OB se verslag gevolg het nie. Ons het ook, ná 10 maande, nog geen beduidende terugvoer in hierdie saak ontvang nie. AfriForum sal nie terugstaan wanneer die regering versuim om politieke hooggeplaastes te vervolg nie – almal is gelyk voor die reg en as die Polisieminister en NVG onwillig is om Mbalula se beweerde oortredings behoorlik te ondersoek en hom te vervolg, sal ons ingryp,” sluit Taute af.

Soortgelyke plasings