Water
|

Riool in Upington: Tyd vir skouers optrek nou verby – Dawid Kruiper-munisipaliteit moet nou optree

Die Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit trek nou al vir meer as vier jaar lank skouers op oor riool wat in die Oranjerivier loop. Benewens die onaangename reuk hou hierdie voortslepende kwessie risiko’s in vir inwoners se gesondheid asook die dorp se ekonomie en toerismebedryf. AfriForum het ’n spesialis genader om ondersoek in te stel en ’n verslag op te stel na aanleiding van die bevindinge. Dié verslag is vandag by die Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit ingedien.

AfriForum het hierdie kwessie ook reeds onder die Menseregtekommissie (MRK) se aandag gebring en die MRK werk saam met die burgerregteorganisasie om hierdie probleem op te los.

Dié rioolprobleem word deels veroorsaak deur ’n beskadigde mangat langs die Kalahari-winkelsentrum waar riool uit die mangat in die spruit langs die winkelsentrum loop en van daar in die Oranjerivier beland.

Ten spyte van talle watertoetse en korrespondensie tussen AfriForum en die Dawid Kruiper-munisipaliteit blyk dit dat dié kwessie steeds op dowe en onwillige ore val. Die tesourie het ook reeds R260 miljoen beskikbaar gestel sodat hierdie kwessie met ’n vier-fase-plan opgelos kan word en hoewel die eerste en tweede fases voltooi is loop riool steeds uit die mangate waar die nuwe pyplyn en opgradering reeds aangebring is. Daar is nog geen sprake van wanneer die derde en vierde fases sal begin nie en intussen woed die probleem voort.

Die derde en vierde fases behels dat die pyplyn aan die ooste kant van die dorp opgegradeer word. Hierdie pyplyn loop verby Laerskool Oranje-Noord, Hoërskool Duineveld en die Kalahari-winkelsentrum. Hoërskool Duineveld moet derduisende rande opdok elke keer wat die riool in die skoolgronde opstoot.

Volgens Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari, ly die gemeenskap en omgewing in geheel hier onder. “Selfs die plante dui op die skade wat die riool aanrig. Ons sien hoe hierdie riool in ons skole inloop en verby gastehuise waar toeriste moet tuisgaan. Hierdie is ’n reusagtige probleem en ons is diep bekommerd dat die munisipaliteit nie gepla is hieroor nie.”

Besoek www.wordlid.co.za om betrokke te raak by AfriForum en ’n verskil te maak in jou gemeenskap.

Soortgelyke plasings